Hierdie week besef ons opnuut dat dissipelskap nie net ’n entjie van die geloofspad beslaan nie, maar ’n uitnodiging is om voluit en getrou te leef tot die einde toe. Ons word herinner dat God se genade genoeg is, selfs wanneer ons swak voel. Ons word ook aangemoedig om vorentoe te kyk, volhardend te hardloop, geestelik vrugbaar te bly en ons hele lewe aan Christus toe te vertrou. Ware dissipelskap is nie iets wat net in sekere seisoene opvlam nie, maar ’n lewenswyse wat gewortel is in God se teenwoordigheid en krag. Tot die einde toe hou ons vas, nie omdat ons sterk is nie, maar omdat Hy getrou is.
Wat beteken dit vir ons om getrou te bly tot die einde toe? Deel ‘n oomblik waar jy die krag van God ervaar het in ’n tyd van swakheid, uitputting of onsekerheid.
Lees Hebreërs 12:1–3.
Wat sê hierdie teksgedeelte vir ons oor volharding in geloof? Hoe help dit ons om te verstaan wat dit beteken om met ons oë op Jesus gevestig te leef?
Let asseblief daarop dat elke vraag hieronder nie noodwendig beantwoord hoef te word nie. Die doel is nie om deur ’n lys vrae te werk nie, maar om as geloofsgemeenskap eerlik en opreg saam te gesels. Hierdie vrae dien slegs as ’n riglyn om die gesprek aan die gang te kry en ruimte te skep vir refleksie. As ons gesprek in ’n ander rigting beweeg, is dit ook reg so. Laat die Heilige Gees ons lei en vertrou dat Hy elkeen in die groep sal aanraak en aanmoedig om ’n pad van dissipelskap met Jesus te begin of te verdiep.
Wat beteken dit vir ons om in swakheid te leef met afhanklikheid van God se krag?
Hoe kan ons die verlede los sodat ons met vrymoedigheid en hoop vorentoe kan beweeg?
In watter opsigte het volharding in geloof al vir ons nuwe insigte of geestelike groei gebring?
Hoe kan ons geestelik vrugbaar bly, selfs in seisoene van fisiese of emosionele uitputting?
Wat beteken dit prakties om elke dag voluit vir Jesus te leef, en hoe kan ons mekaar daartoe aanmoedig?
Vra die groep om drie gebedspunte te identifiseer wat verband hou met hierdie week se tema. Dit kan byvoorbeeld wees vir volharding in moeilike tye, vir innerlike vernuwing en geloofsvrug, of vir vertroue in God se plan vir die pad wat voorlê. Moedig die groep aan om saam te bid vir mekaar se geloofspad, veral vir volharding, hoop en blywende oorgawe aan Christus.
Die pad van dissipelskap eindig nie na veertig dae nie, maar begin eintlik maar net. Ons loop hierdie pad nie alleen nie, maar saam met die Here wat elke tree met ons neem. Kom ons hou ons oë op Jesus, ons Gids en Voltooier van ons geloof, en leef met oorgawe, ongeag hoe maklik of moeilik die pad is. Tot die einde toe bly Hy getrou, en daarom kan ons ook getrou wees.