Gebed is nie bloot ’n ritueel of ’n geestelike plig nie, maar ’n ontmoeting met God. Dit is die plek waar geloof werklik asemhaal. In gebed word ons gevorm, gelaai en getroos. God nooi Sy kinders uit om met vrymoedigheid en vertroue na Hom te kom, en saam met Hom te wees.
“Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie. “As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. – Matteus 6:1–6 (AFR83)*
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.
As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.
Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” – Matteus 18:15–20 (AFR83)*
In Matteus 6 begin Jesus Sy dissipels leer oor die hart van geestelike praktyke. Hy wys dat gebed nie ’n vertoning moet wees nie, maar ’n ontmoeting – nie ’n manier om mense se aandag te trek nie, maar ’n manier om by die Vader uit te kom. Hy sê: gaan word stil. Gaan in jou kamer en maak die deur toe. Dit is daar, in die stil en ongesiene plek waar die Vader jou ontmoet.
Vir Sy luisteraars moes dit ’n bevrydende woord gewees het. In hulle tyd was gebed dikwels gesien in publieke ruimtes – op straathoeke, sinagoges, by tempelmure. Maar Jesus sê: dit gaan nie oor wie jou hoor nie; dit gaan oor Wie jy aanroep. En Hy leer hulle: jy bid tot die Vader. Nie ’n afgeleë, onbetrokke mag nie, maar die Vader – naby, versorgend en teenwoordig.
Later in Matteus 18, voeg Jesus nog ’n dimensie by: “Waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hulle midde.” Gebed is nie net individueel nie – dit is ook gesamentlik. Wanneer ons saam bid, is God in ons midde. Nie net as toehoorder nie, maar as deelnemer.
Hier sien ons iets van die misterie van die drie-enige God: ons bid tot die Vader, deur die Seun, in die krag van die Gees. Dit is nie net kommunikasie nie – dit is gemeenskap. Ons tree nie in ’n koue monoloog in nie, maar in ’n dinamiese verhouding met die God wat ons liefhet.
Gebed is juis kragtig omdat God naby is. Dit verander nie net omstandighede nie – dit verander ons. Dit anker ons in God se hart, herinner ons aan Sy beloftes, en maak ons oë oop vir Sy werk. Dit is nie ’n laaste uitweg nie; dit is ons eerste toevlug.
Kom ons dink bietjie saam verder oor die krag van gebed.
“Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is…” – Matteus 6:6 (AFR53)*
In ons moderne tyd het “besig wees” ’n vorm van status geword. Ons voel belangrik wanneer ons hardloop. Jy’s waardevol as jy oorboek is, as jy altyd iets het om te doen. Maar Jesus se woorde in Matteus 6:6 onderbreek daardie lewensritme met iets eenvoudig en teen-kultureel: “Gaan in jou kamer in, maak die deur toe...” Met ander woorde: stap uit die gedruis uit, klim van die draaistoel af, en wees net daar saam met God.
Gebed begin nie met woorde nie – dit begin met teenwoordigheid. Dit vra nie van jou om iets reg te kry nie; dit vra dat jy net sal opdaag. Dis nie tyd mors nie, dis tyd herstel. In ’n wêreld wat sê “jy is wat jy bereik”, herinner gebed jou: jy is wie jy is voor God, en dis genoeg.
As ons nie leer om stil te raak nie, verloor ons nie net perspektief nie, maar ons verloor onsself. Ons verloor die vrede waarvoor ons jaag. Net daar, agter die toe deur, waar niemand kyk nie, wag die Een wat alles sien. En Hy wil nie hê jy moet presteer nie – net by Hom wees.
“Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hulle midde.” – Matteus 18:20 (AFR53)*
Gebed is nie net ’n privaat saak nie. Wanneer gelowiges saam bid – as gesin, as vriende, as gemeente – is Jesus teenwoordig op ’n besondere manier. In gemeenskaplike gebed ervaar ons iets van die liggaam van Christus in aksie. Ons dra mekaar se laste, ons bid oor mekaar se pyn, en ons vier saam God se getrouheid. Daarin word ons herinner: ons is nie alleen nie.
“Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader…” – Jakobus 1:17 (AFR83)*
Die krag van gebed lê nie in ons woorde nie, maar in God se karakter. Hy is getrou, liefdevol en teenwoordig. Wanneer ons bid, plaas ons ons vertroue in Hom – nie omdat ons alles verstaan nie, maar omdat Hy betroubaar is. Gebed verander die bidder, en dit trek ons nader aan die hart van ons Vader.
Ons Vader in die hemel,
Laat U Naam in my lewe geheilig word.
Laat U koninkryk in my lewe kom.
Laat U wil in my lewe op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Gee ons vandag ons daaglikse brood.
En vergeef ons ons oortredings
soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.
En laat ons nie in die versoeking kom nie,
maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.
Gebruik vandag 5 minute om net stil te word in gebed. Probeer iets nuuts. Moenie woorde gebruik nie. Sit net in jou eie stil plek en sien in jou geestesoog hoe God saam met jou in die kamer is en op die stoel of bed gaan sit. Moenie met woorde praat nie. Ervaar Hom net – sonder afleiding, net jy en die Vader.
Reël iewers hierdie week 'n eenvoudige gebedstyd saam met een ander persoon – ’n vriend, huweliksmaat of kollega.
Skryf ’n gebed in jou eie woorde en lees dit hardop as ’n teken van eerlike verbintenis met God.
“Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is...” – Matteus 6:6 (AFR53)*
Wat verhinder my soms om werklik stil te word voor God in gebed?
Hoe kan ek gebed meer sentraal maak in my daaglikse lewe én in my gemeenskap met ander?