Nie alles wat geestelik klink, is waar nie. In ’n wêreld van verdraaide waarhede en verwarrende boodskappe, is dit die roeping van elke dissipel om die suiwer Evangelie van Christus te ken, lief te hê en te beskerm. God roep ons om Sy waarheid te bewaar, nie uit vrees nie, maar uit liefde vir dit wat werklik lewe gee.
“Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ’n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.” – Matteus 7:15–20 (AFR83)*
Jesus het hierdie waarskuwing uitgespreek in die slotgedeeltes van die Bergpredikasie (daardie kragtige verkondiging van die koninkryk waar soveel van Sy volgelinge hulle eie denke moes heroorweeg). Teen die einde van hierdie leringe begin Hy die verskil uitwys tussen wat eg is en wat nie is nie: ware en valse dissipels, ware en valse profete, ware en valse fondamente.
Hy sê: “Pas op vir valse profete...”. Dit is diegene wat van buite vroom en geloofwaardig lyk, maar van binne die waarheid ondermyn. Die beeld van skaapsklere is treffend: hulle lyk of hulle aan die kudde behoort, maar hulle kom nie om te lei nie, maar om te verteer. Jesus roep Sy volgelinge tot waaksaamheid.
In die konteks van die eerste-eeuse Palestina was profete gesiene en invloedryke figure. Mense het dikwels hul vertroue in sulke stemme geplaas. Daarom was Jesus se waarskuwing ’n oproep tot onderskeiding om nie elke lering sluk net omdat dit godsdienstig klink nie. Ons verantwoordelikheid is om altyd weer terug te gaan na die Woord. Ons moet dit meet teen die waarheid van God se karakter en Christus se Evangelie.
Later, in die vroeë kerk, sou Paulus en ander apostels hierdie tema weer opneem. Paulus skryf aan die Galasiërs: “As iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat anders is as wat julle ontvang het – laat hom vervloek wees!” (Gal. 1:9). Die suiwerheid van die Evangelie was van kritieke belang, want dit bepaal nie net ons teologie nie, maar ons lewe.
Ook vandag is die oproep geldig. Ons leef in ’n wêreld vol stemme met halwe waarhede en subtiele verdraaiings. As dissipels moet ons gevorm word deur die waarheid van Christus – die eenvoudige, kragtige Evangelie van genade, kruis en opstanding. En ons moet waak daarteen om dit te verdun, te verander of te verdraai.
Kom ons dink bietjie verder saam oor wat dit verg om die Suiwer Evangelie te bewaar.
“Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe.” – Matteus 7:15 (AFR83)*
'n Insiggewende invalshoek op Matteus 7:15 lê in die beeldspraak wat Jesus gebruik. “Skaapsklere” is iets wat met die eerste oogopslag onskuldig of selfs vroom lyk. Maar hierdie beeld het in Jesus se tyd nóg 'n laag van betekenis gehad wat vir sy Joodse hoorders duidelik sou wees en wat ons maklik miskyk: skaapsklere was dikwels ook die klere van profete.
Dink byvoorbeeld aan Elia, wie se mantel van dierehare 'n simbool van sy profetiese roeping was. In 2 Konings 1:8 word hy beskryf as iemand wat 'n “harige kleed” gedra het. Selfs Johannes die Doper het 'n mantel van kameelhaar gedra, wat alles 'n uitdrukking van eenvoud en profetiese integriteit vir die eerste eeuse Jood was. Jesus waarsku dus teen mense wat soos ware profete voorkom, maar dit nie is nie. Hulle lyk asof hulle van God kom, maar hulle dra 'n vermomming.
So wat beteken dit vandag vir ons? Hierdie beeld wys ons dat valsheid nie altyd in die wêreld buite die kerk begin nie. Dit kan ook binne die gemeenskap van gelowiges begin, selfs binne gesagsposisies. En dit is hoekom Jesus se oproep so dringend is. Dissipels moet nie net ingestel wees op wat sag of geestelik klink nie, maar eerder op die vrug wat in hulle leiers se lewe vergestalt word. Net ná vers 15 sê Hy: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” Dus: dade, gesindheid en karakter is altyd die toets, en nie noodwendig woorde of styl nie.
In ’n wêreld waar charisma maklik vir gesag verwar word, roep Jesus ons terug na eenvoud, integriteit en onderskeiding. Die doel is nie om agter elke bos 'n bedreiging te sien nie, maar om met oop oë en vaste harte vas te hou aan dit wat werklik lewe gee, naamlik Christus self, en die suiwer, eenvoudige Evangelie van genade en waarheid.
“Maar selfs al sou ons, of 'n engel uit die hemel, 'n evangelie aan julle verkondig in stryd met wat ons aan julle verkondig het, laat hom vervloek wees!” – Galasiërs 1:8 (AFR20)*
Paulus se woorde is skerp, want die waarheid van die Evangelie is heilig. Dit is die goeie nuus van redding deur genade alleen, deur geloof in Christus alleen. Wanneer dit selfs net ’n bietjie verdraai word, verloor dit sy krag. Daarom moet ons dit ken, koester, en met alles in ons bewaar. Nie om mense te oorreed in ’n argument nie, maar om die lewe van Christus suiwer te hou in ons eie harte én in die wêreld.
“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” – Johannes 8:32 (AFR53)*
Wanneer ons God se waarheid liefkry en daardeur gevorm word, leef ons vry. Die waarheid is nie net ’n stel feite nie, maar die Persoon van Jesus self. En as ons Hom volg, sal ons toenemend leer om valsheid te herken, die Gees se stem te hoor, en in vryheid te wandel. Die doel is nie om alles te kritiseer nie, maar om Christus getrou te verteenwoordig in ’n wêreld wat smag na egtheid.
Here,
U is die Weg, die Waarheid en die Lewe.
U Woord is betroubaar, en ek wil daarin wandel.
Ek vra dat U my bewaar van misleiding en verwarring.
Gee my asseblief ’n hart wat U waarheid liefhet.
Help my om die Evangelie suiwer te hou,
nie net in my woorde nie, maar in my hele lewe.
Ek vra dat U my denke sal vorm deur U Woord.
Maak my asseblief sensitief vir die stem van U Gees,
die wysheid om te onderskei
en ’n sagte hart wat altyd bereid is om te leer.
Lei my om waarheid met liefde te praat.
Om liefde met waarheid te leef,
en met ander te deel.
Amen.
Lees Galasiërs 1 en onderstreep alles wat met die Evangelie van Christus te doen het.
Kies een waarheidsvers (bv. Johannes 14:6 of Romeine 5:8) en memoriseer dit hierdie week.
Evalueer die stemme wat jy gereeld in jou gedagtes toelaat (boeke, nuus, sosiale media). Vorm hulle jou in die beeld van Christus of verwar hulle jou beeld van Hom?
“Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe.” – Matteus 7:15 (AFR83)*
Waar laat ek toe dat die Evangelie verdun of versag word in my eie lewe?
Hoe kan ek met nederigheid, maar ook met oortuiging, die waarheid van Christus uitleef en verdedig?