Hierdie week besef ons opnuut dat dissipelskap nie ’n solo-reis is nie. Ons word geroep om deel te wees van ’n liggaam, ’n geloofsgemeenskap waar ons saam leer, saam groei, en saam volhard. Gebed verbind ons met God, maar ook met mekaar. Ons sien hoe liefdevolle verdraagsaamheid, bemoediging en eenheid die liggaam van Christus versterk. Wanneer ons saam nagmaal gebruik, saam dien, en saam bid, word Christus se teenwoordigheid op ’n tasbare manier beleef. Gemeenskap is nie bloot ’n opsionele bykomstigheid in ons geloofslewe nie, maar eerder ’n ruimte waarbinne ons geestelik gevorm kan word.
Wanneer ons dink aan die geloofsgemeenskap waarvan ons deel is, wat is die eerste herinnering wat by ons opkom? Dink vir ’n oomblik na oor ‘n tyd waar jy gedra of bemoedig is deur jou medegelowiges (die liggaam van Christus).
Lees Handelinge 2:42–47.
Wat tref ons in hierdie beskrywing van die vroeë gemeente? Hoe verskil dit van of stem dit ooreen met ons eie ervaring van geloofsgemeenskap?
Let asseblief daarop dat ons nie elke vraag hieronder hoef te beantwoord nie. Die doel is nie om deur ’n lys vrae te werk nie, maar om as geloofsgemeenskap eerlik en opreg saam te gesels. Hierdie vrae dien slegs as ’n riglyn om die gesprek aan die gang te kry en ruimte te skep vir refleksie. As ons gesprek in ’n ander rigting beweeg, is dit ook reg so. Laat die Heilige Gees ons lei en vertrou dat Hy elkeen in die groep sal aanraak en aanmoedig om ’n pad van dissipelskap met Jesus te begin of te verdiep.
Wat behels ’n ware geloofsgemeenskap?
In watter opsigte is dit vir ons moeilik om mekaar in liefde te verdra en steeds tot mekaar verbind te bly?
Wat beteken dit prakties om mekaar se laste te dra in ons konteks vandag?
Hoe kan ons meer doelbewus ons geestelike gawes gebruik in diens van ander?
Watter betekenis het die nagmaal vir ons, en hoe kan ons dit met groter eerbied en bewustheid vier?
Hoe kan ons in ons gemeenskap streef om meer soos die van Handelinge 2 te wees?
Vra die groep om drie gebedspunte te identifiseer wat verband hou met hierdie week se tema. Dit kan byvoorbeeld wees vir ’n dieper liefde vir mekaar, vir die herstel van gebroke verhoudings in die gemeente, of vir wysheid om in liefde te dien. Moedig die groep aan om ook vir eenheid en bemoediging binne die gemeente te bid, en om die Heilige Gees te vra om hul gawes in die lig van hierdie week se fokus te gebruik.
Ons is nie gemaak om alleen te loop nie. Jesus het ons in ’n liggaam geplaas waar elkeen nodig is en elkeen ’n plek het. Laat ons die geloofsgemeenskap waarvoor Hy gebid het, koester en bewaar. Wanneer ons mekaar in liefde dra, saam bid en saam nagmaal vier, wys ons vir die wêreld wie Hy is.