Getrouheid en nederigheid is stille, maar kragtige eienskappe van die vrug van die Gees. Hierdie twee aspekte ontwikkel nie oornag nie. Dit word gevorm oor jare van volharding, gereelde toewyding, diens en vertroue. Dit wys nie net dat Christus in ons woon nie, maar ook dat ons geanker is in ’n groter plan as net ons eie. In ’n wêreld wat selfbevordering en onmiddellike resultate hoog ag, wys getrouheid en nederigheid vir ons ’n ander pad. Dit is die pad van troue liefde en diens wat nie erkenning soek nie.
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. – Galasiërs 5:22–23 (AFR83)*
“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik. – Lukas 16:10 (AFR83)*
In Lukas 16 vertel Jesus ’n eienaardige gelykenis van ’n bestuurder wat met geld vertrou is. Die kern van Sy lering lê nie in die hoeveelheid wat iemand ontvang nie, en ook nie in die feit dat die bestuurder oneerlik was nie, maar eerder in die manier waarop die persoon die geld bestuur. Die fokus is op hoe iemand omgaan met dit wat aan hom toevertrou is, of dit groot of klein is. Daarom volg die woorde: “Wie getrou is in klein dinge, is ook getrou in groot dinge.”
Jesus se dissipels het dikwels gewonder oor mag, status en belangrike posisies. Hulle het gevra wie die grootste is. Maar Jesus het vir hulle gewys dat die ware pad na grootheid ’n ander rigting neem. Hy leer dat die een wat homself verneder, verhoog sal word, en die een wat dien, regtig belangrik sal wees in God se oë. Grootheid lê dus nie in sigbaarheid nie, maar in stil getrouheid en nederigheid.
Getrouheid beteken om elke dag op te daag, selfs wanneer niemand dit raaksien nie. Dit is om beloftes na te kom, jouself beskikbaar te stel vir ander, en jou hart lojaal te hou aan Christus, in tye van vrug én in tye van droogte. Dit gaan oor standvastigheid in karakter.
Nederigheid is nie swakheid nie. Dit is om jouself nie as die middelpunt van die storie te sien nie, maar om te erken dat God die middelpunt is. Dit is om te weet dat alles wat jy het, genade is. Jesus het self Sy dissipels se voete gewas, en daarna gesê: “Ek het julle ’n voorbeeld gegee...” (Johannes 13:15).
Kom ons dink saam verder oor getrouheid en nederigheid as twee aspekte van die vrug van die Gees.
“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar...” – Lukas 16:10 (AFR83)*
In Lukas 16 vertel Jesus die eienaardige gelykenis van die onregverdige bestuurder om sy dissipels iets belangrik te leer oor hoe hulle met aardse dinge moet omgaan. Die bestuurder word gekonfronteer oor sy swak bestuur en besluit toe om slim op te tree deur skuldvermindering aan sy meester se skuldenaars toe te staan. Alhoewel sy optrede onregverdig was, prys sy meester hom vir sy strategiese vooruitbeplanning. Jesus gebruik hierdie verhaal om te wys dat selfs wêreldse mense verstaan hoe belangrik dit is om vooruit te dink. Hoeveel te meer behoort kinders van God dan nie wys en verantwoordelik te wees met wat aan hulle toevertrou is nie – nie net vir aardse voordeel nie, maar vir ewige waarde.
Jesus leer dat getrouheid nie eers by groot verantwoordelikhede begin nie, maar by die klein, ongesiene keuses van elke dag. Aardse rykdom en verantwoordelikhede is 'n toetsgrond waar ons karakter geslyp word. Deur eerlik, nederig en lojaal te wees in dit wat klein en onbelangrik lyk, wys ons dat ons waardig is om groter verantwoordelikhede in God se Koninkryk te dra. Getrouheid in die klein dinge vorm in ons 'n diep gevestigde integriteit, en roep ons om nie geld of status te dien nie, maar God alleen. In God se oë is elke daad van eerlikheid en toewyding belangrik, al lyk dit vir die wêreld onbeduidend. (Terloops, vandag het ’n “Bonus-gedeelte” aan die einde van hierdie dagstukkie, wat hierdie baie vreemde gelykenis van Jesus in baie meer detail bespreek. Dit is een van Jesus se moeilikste gelykenisse!)
“... het Hy Homself verneder… Daarom het God Hom ook uitermate verhoog…” – Filippense 2:8-9 (AFR53)*
Nederigheid beteken om jouself in perspektief te sien. Dit is om te besef dat ek nie alles is nie, maar dat ek aan Hom behoort wat alles is. Jesus, die enigste volmaakte mens, het gekies om te dien. Sy lewe wys vir ons dat ware eer en betekenis juis lê in selfopoffering. Wanneer die Gees in ons werk, begin ons denke en gesindheid verander. Ons leef nie meer vanuit onsself nie, maar vanuit Christus en vir ander.
“God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” – Jakobus 4:6 (AFR53)*
God bou nie Sy Koninkryk op mense wat hulself verhef nie, maar op dié wat Hy kan vertrou. Hy vestig Sy werk in en deur diegene wat hulself voor Hom buig. Wanneer ons getrou en nederig leef, maak ons ruimte vir Sy genade, en Hy vertrou dit toe aan dié wat Hom eerste stel.
Hemelse Vader,
U is getrou van geslag tot geslag.
Ek loof U vir U standvastige liefde.
Ek vra dat U my leer om getrou te wees,
nie net in groot dinge nie,
maar ook in die klein verantwoordelikhede wat net U raaksien.
Gee my ’n hart wat gereed is om op te daag,
selfs wanneer niemand anders kyk nie.
Vorm in my ’n karakter waarop U kan bou.
Tot eer van U Naam alleen.
Amen.
Skryf vandag ’n lys van die klein dinge waarin jy getrou wil wees, en bid daaroor.
Dink aan een praktiese manier waarop jy nederigheid kan uitleef. Dit kan wees deur iemand anders eerste te stel of om in stilte diens te lewer.
Lees Filippense 2:1 tot 11 stadig en let op hoe Christus se nederigheid hier beklemtoon word. Praat met God oor hoe Christus se gesindheid in jou gevorm kan word.
“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar” – Lukas 16:10 (AFR83)*
In watter area roep God my om volhardend getrou te wees?
Hoe kan ek nederigheid uitleef in my daaglikse verhoudings en keuses?
Lukas 16:1–13 bevat een van die mees raaiselagtige gelykenisse wat Jesus vertel het – die sogenaamde Gelykenis van die Onregverdige Bestuurder. Wat hierdie gelykenis so kompleks maak, is dat die hoofkarakter ’n bedrieër is, maar tog op ’n manier deur sy meester (en indirek deur Jesus self) geprys word. Dit voel vreemd: waarom sou Jesus ’n skelm as voorbeeld stel? Wat probeer Hy werklik vir ons leer?
Hierdie Bybelstudie help om die konteks, inhoud en betekenis van die gelykenis stap vir stap te ontrafel. Deur terug te keer na die oorspronklike Grieks, kan ons beter insig kry in die bedoeling en nuanses van die teks, en verstaan wat Jesus wou hê sy volgelinge daaruit moes leer.
1 Jesus het ook vir sy dissipels gesê:
“Daar was ’n ryk man wat ’n bestuurder in diens gehad het. Daar is aan hom berig dat die bestuurder sy besittings mors en verkwis.
2 Hy het hom toe laat roep en vir hom gesê: ‘Wat hoor ek van jou? Gee rekenskap van hoe jy dinge bestuur het, want jy kan nie langer in hierdie posisie bly nie.’
3 Die bestuurder het toe vir homself gesê: ‘Wat nou? My werk word van my weggeneem. Ek het nie die krag om fisies te werk nie, en ek skaam my om te bedel.
4 Ek weet wat ek gaan doen sodat, wanneer ek nie meer ’n bestuurder is nie, mense my in hul huise sal inneem.’
5 Hy het toe een vir een van sy meester se skuldenaars laat roep. Hy vra vir die eerste: ‘Hoeveel skuld jy aan my meester?’
6 Die man antwoord: ‘Honderd vate olyfolie.’ Die bestuurder sê toe: ‘Vat jou rekening, gaan sit gou, en skryf vyftig.’
7 Toe vra hy vir ’n ander een: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Die man antwoord: ‘Honderd sakke koring.’ Die bestuurder sê vir hom: ‘Vat jou rekening en skryf tagtig.’
8 Toe prys die meester die onregverdige bestuurder omdat hy slim en strategies opgetree het. (Letterlik: “phronimōs” – strategiese wysheid, nie moreel-korrekte optrede nie). Want die mense van hierdie wêreld is dikwels slimmer in hoe hulle dinge hanteer as die mense van die lig.
9 Ek sê vir julle: Gebruik julle geld en besittings – al is dit onregverdig– op só ’n manier dat julle vriende maak, sodat, wanneer dit opraak, hulle julle in die ewige woonplekke sal verwelkom. (Letterlik: “mamōna tēs adikias” – Mammon/rykdom van die onreg” wat impliseer dat hierdie rykdom dikwels uit onreg spruit (d.w.s. korrupte of gebroke stelsels), of geneig is om tot onreg te lei (m.a.w. korrupteer), of eenvoudig nie as regverdig of ewige bate beskou kan word nie.)
10 Wie getrou is in klein dinge, sal ook getrou wees in groot dinge; en wie oneerlik is in klein dinge, sal ook oneerlik wees in groot dinge.
11 As julle nie getrou is in hoe julle geld hanteer nie – daardie tydelike rykdom – wie sal julle dan die ware rykdom toevertrou?
12 En as julle nie getrou is met wat aan iemand anders behoort nie, wie sal dan aan julle gee wat werklik aan julle behoort?
13 Niemand kan twee base dien nie. Hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander verag. Julle kan nie God dien én geld nie.”
Vers 1–2: Die bestuurder word gekonfronteer
Die gelykenis begin met ’n bestuurder (’n administrateur of rekenmeester/boekhouer) wat sy werk verloor omdat hy onverantwoordelik was met sy meester se besittings. Let op: hy word nie ontslaan omdat hy steel nie, maar omdat hy sy meester se geld “verkwis” (vermors, verbeur, verkwansel) — dis ’n beeld van swak bestuur, nie noodwendig boosheid nie.
Vers 3–4: ’n Plan word beraam
Die bestuurder erken sy beperkte opsies: hy het nie fisieke krag nie en wil nie bedel nie. In plaas van moedeloosheid, neem hy ’n slinkse maar doelgerigte besluit: om ander mense te bevoordeel, sodat hulle hom later sal help. Hy gebruik sy laaste bietjie gesag om sy eie toekoms te verseker.
Vers 5–7: Die skuldvermindering
Hier begin die plan: hy verminder die skuld van twee skuldenaars – een se skuld word gehalveer, die ander s’n met twintig persent verminder. Dit is belangrik om te sien dat hy nie net vriendelik optree nie, maar veral baie strategies. Die mense sal hom later iets skuld – nie in geld nie, maar in guns en lojaliteit.
Vers 8a: Die meester se verrassende reaksie
Die meester se reaksie is besonder verrassend – hy prys die bestuurder! Nie vir sy oneerlikheid nie, maar vir sy “voorsienende” (“phronimos”, wyse/strategiese) optrede. Hierdie woord dui op praktiese wysheid – iemand wat die toekoms in ag neem en daarvolgens handel. Dit is juis daardie eienskap wat Jesus uitlig. Let ook daarop dat wanneer die meester die bestuurder prys, hy eintlik verbaas staan oor die bestuurder se vernuftigheid en strategiese denke. Wat die bestuurder doen, is verkeerd, maar sy strategiese denke is iets wat in sy guns tel. Dit is amper asof die meester sê: “Kan jy glo dat hierdie man so skelm is, maar tog so slim kan wees om vir homself te sorg vir sy toekoms!”
Vers 8b: Die beginsel
Jesus maak die punt duidelik: mense van hierdie wêreld is dikwels slimmer in wêreldse sake as kinders van die lig. Met ander woorde, gelowiges is dikwels traag om hul aardse hulpbronne slim en met ’n ewige visie te gebruik.
Vers 9: Die oproep tot aksie
Jesus sê: gebruik aardse rykdom om vriende te maak wat julle in die ewige woning sal verwelkom. Hy sê nie geld is sleg nie – Hy sê gebruik dit met die ewigheid in gedagte. Rykdom is ’n hulpmiddel, en nie ’n doel op sigself nie.
Vers 10–12: Getrouheid in klein dinge
Hier gaan Jesus dieper: die hantering van geld en materiële goed is ’n toets van karakter. As iemand nie getrou is in dit wat klein of tydelik is nie, sal hulle ook nie getrou wees in dit wat waarlik kosbaar is nie. Hierdie gedeelte sluit direk aan by die beginsel van geestelike groei deur alledaagse verantwoordelikheid.
Vers 13: Die finale teenstelling
Jesus eindig met ’n skerp waarskuwing: jy kan nie tegelyk God en Mammon (’n Aramese woord vir rykdom) dien nie. Die punt is nie dat rykdom sleg is nie (want dit is nie), maar dat dit ’n mededinger vir jou lojaliteit is. Wie se stem dra die meeste gesag in jou lewe – God of geld?
Jesus gebruik hierdie gelykenis nie om oneerlikheid goed te praat nie, maar om wysheid en vooruitdenkende bestuur te beklemtoon. Die onregverdige bestuurder het besef dat sy tyd beperk is en dat hy slim moet optree. Jesus sê: As selfs ’n wêreldse mens só kan dink oor sy toekoms, hoeveel te meer behoort gelowiges nie met ’n ewige perspektief te leef nie?
Die kern van die gelykenis lê in getrouheid, wysheid en lojaliteit. Ons is almal rentmeesters van dit wat God aan ons toevertrou het – of dit nou geld, tyd, invloed of vermoëns is. God roep ons om dit nie lukraak of selfgesentreerd te gebruik nie, maar met ’n hart gerig op sy Koninkryk. Getrouheid begin in die klein dinge, en karakter word gevorm in die ongesiene besluite en die daaglikse keuses.
Die gelykenis herinner ons dat hoe ons aardse hulpbronne gebruik, baie sê van wie of wat ons werklik dien.