Die 40 Dae van Dissipelskap het ontstaan uit 'n begeerte om ons medegelowiges uit te nooi na 'n tyd van verdieping, vernuwing en groei. Ons het gesien hoe maklik dit is om vas te val in roetines of oppervlakkige geloof, en daarom het ons saam begin droom oor 'n pad van egte dissipelskap – waar elkeen, ongeag ouderdom of agtergrond, doelbewus genooi word om Jesus nuut te volg.
Hierdie projek is nie net 'n program of 'n lys aktiwiteite nie. Dit is 'n uitnodiging na 'n lewende verhouding met God, 'n reis waarin ons weer ontdek wat dit beteken om dissipels van Jesus te wees in die praktyk van elke dag. Oor 40 dae fokus ons op ses sleutel-aspekte van dissipelskap, met temas wat elke week verder verdiep:
Die Fondament van Dissipelskap: Ons begin deur terug te keer na die hart van die roeping – om Jesus te volg, ongeag koste.
Die Eise van Dissipelskap: Ons ontdek wat dit beteken om onsself op te offer en werklik agter Jesus aan te stap.
Die Krag van die Woord – Leer en Onderrig: Die Bybel is ons kompas. Ons leer saam hoe God se Woord rigting en krag gee vir elke dag.
Die Gemeenskap van die Heiliges – Gebed en Gemeenskap: Geloof is nie 'n solo-pad nie. Ons groei saam deur gebed, geselskap en ondersteuning van mekaar.
'n Vrugdraende Lewe – Leef tot God se Eer: Ware dissipelskap dra vrug. Ons kyk hoe geloof sigbaar word deur liefde, diens en gehoorsaamheid.
Getrou tot die Einde – Deur God se Krag: Ons eindig met 'n fokus op volharding en vreugde, met die wete dat God ons dra tot die einde toe.
Die struktuur van die projek is eenvoudig, maar doelgerig. Elke week word afsgeskop met 'n Sondagdiens waar die tema bekendgestel word. Vir die res van die week ontvang deelnemers daagliks 'n kort WhatsApp-boodskap, wat 'n skakel bevat na 'n webblad met 'n volledige dagstukkie en insiggewende video’s. Hierdie oordenkings is ontwerp om nie net inligting oor te dra nie, maar jou elke dag uit te nooi tot ontmoeting met God.
Ons het gesorg dat elke lidmaat deel kan wees, hetsy individueel of in 'n gespreksgroep (fisies of aanlyn). Bestaande selgroepe en nuwe virtuele groepe bied aan elkeen 'n plek om saam te gesels, vrae te vra en mekaar aan te moedig. Alles is so toeganklik as moontlik gemaak: geen koste, geen papiergidse, net jou foon en 'n oop hart.
Ons gemeente se spesifieke 40 Dae van Dissipelskap-reis begin met 'n unieke Broodfees-afskopgeleentheid – 'n gesellige, kreatiewe Saterdagmiddag waar ons as gemeente saam eet en ons Christen-wees saam vier. En aan die einde is daar 'n afsluitingsfees om ons reis af te rond.
Die 40 Dae van Dissipelskap is 'n uitnodiging om jou geloof nuut te leef – nie vir 40 dae nie, maar vir die res van jou lewe. Ons hoop dat jy nie net deelneem nie, maar dat jy jouself oopmaak om God se stem te hoor, Sy liefde te beleef, en Sy roeping as dissipel met oorgawe te leef.
Om jou te help op hierdie pad, is daar ook ’n "Beplan jou Eie Reis" bladsy beskikbaar. Hier kan jy jou eie kalender saamstel en jou eie 40 Dae van Dissipelskap-reis beplan, presies soos dit vir jou of jou gemeente werk. Hierdie hulpmiddel is gratis beskikbaar vir individue en vir gemeentes wat hul eie pad wil stap.
Beplan jou eie reis, en ontdek saam met ons hoe dissipelskap nie net jou eie lewe nie, maar ook die lewe van jou geloofsgemeenskap, kan verander.