Gehoorsaamheid aan Christus is nie ’n eenmalige besluit nie, maar ’n daaglikse manier van leef. Wanneer ons in Sy Woord bly, word ons denke, keuses en verhoudings diep beïnvloed. Dis hier waar ware dissipelskap sigbaar word. Nie net in wat ons glo nie, maar in hoe ons leef.
Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?” Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is ’n slaaf van die sonde. ’n Slaaf bly nie vir altyd by ’n huisgesin nie; ’n seun bly vir altyd. Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees. – Johannes 8:31–36 (AFR83)*
Jerusalem het gegons. Tempelhoogtye, wat die tye van die jaarlikse feeste was, het duisende Jode saamgebring vir die verskillende feeste. Nou was dit die Loofhuttefees, ’n tyd van herdenking, aanbidding en verwagting. Teen hierdie agtergrond het Jesus die skare in die tempel begin leer en Sy woorde het soos vuur deur die skare versprei. Sommige het met verwondering geluister, ander met wantroue. Daar was spanning in die lug. Die godsdienstige leiers was op hulle hoede maar die gewone mense was gefassineer.
In dié tyd het Jesus dinge begin sê wat skokkend eerlik en ontwrigtend was. Hy het gesê dat Hy van bo af kom, dat Hy die Lig van die wêreld is en dat wie in Hom glo nie in duisternis sal wandel nie. Onder dié wat na Hom geluister het was daar Jode wat begin het om in Hom te glo. Hulle was nuuskierig, oop en selfs entoesiasties. Maar Jesus weet dat ware geloof nie net begin en eindig met ’n emosionele reaksie nie. Dit word bewys deur volharding.
En so draai Hy Hom na hierdie mense toe en sê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.” Dit is ’n eenvoudige maar diepgaande uitdrukking. Jesus sê nie net: "Glo in My" nie maar: "Bly in My woorde." Daardie woord “bly” roep ’n prentjie op van aanhou, volhou, jouself vestig in iets. Nie ’n vlugtige belangstelling nie maar ’n verblyf. ’n Bewuste keuse om elke dag in Sy leer te leef.
Vir die mense van daardie tyd was dit radikaal. Om in iemand se “woord” te bly het beteken jy het hulle gesag aanvaar, hul leringe as rigtinggewend beskou en jouself daartoe verbind om volgens daardie riglyne te leef. Dit was nie bloot ’n kopsaak nie. Dit was ’n lewenswyse. Jesus het hulle nie genooi na blote aanvaarding nie maar na oorgawe.
Wat Jesus hier sê was eintlik ’n uitnodiging en uitdaging na dissipelskap. Hy wou nie volgelinge hê wat net vir die wonderwerke gekom het nie. Hy soek dissipels wat die pad saam met Hom sou loop, deur die eenvoudige, alledaagse gehoorsaamheid van Sy Woord.
Kom ons dink saam bietjie verder oor wat dit beteken om in gehoorsaamheid aan Sy Woord te wandel.
“As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels” – Johannes 8:31 (AFR83)*
In die Grieks is die woord vir “bly”, meinēte, wat beteken om aan te hou, te vertoef, vas te hou, standvastig te wees. Dis dieselfde woord wat Jesus later gebruik in Johannes 15 wanneer Hy sê: “Bly in My soos Ek in julle bly.” Hierdie woord beskryf dus nie ’n vlugtige verhouding nie, maar n standhoudende verbondenheid, soos ’n huis waarin jy woon, of ’n boom wat diep wortel skiet in grond wat dit voed en dra.
Om in Sy Woord te bly is nie net om dit te lees nie. Dis om onsself daarin te vestig, dit toe te laat om ons te vorm en dit as ons vaste verwysingsraamwerk te hou. Dit beteken om konsekwent God se waarheid en beginsels as ons anker te hou, ook wanneer dit teen ons gevoel, kultuur of gemak indruis. Dit is juis dan, in die vasbyt en die volhou, dat ware dissipelskap groei. Nie in ’n enkele besluit nie maar in daaglikse, stil oorgawe waar ek net weer sê: "Ek kies vandag wéér om in U woord te bly".
Hierdie “bly”-verhouding wys vir ons dat geestelike volwassenheid nie gaan oor die tempo van ons groei nie maar oor die diepte van ons vasstaan. Ware dissipels raak nie vinnig beïndruk nie. Hulle bly vas en dit is waar die vrug van geloof begin ryp word.
“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” – Johannes 8:32 (AFR83)*
Gehoorsaamheid aan God se Woord is nie ’n beperking nie. Dit is die pad na vryheid. Die wêreld belowe vryheid deur onafhanklikheid maar dit lei dikwels na verwarde identiteit en gebroke lewens. Christus sê dat Sy waarheid ons bevry, van vrees, van leuens en van selfvernietigende denke. As ons Hom genoeg vertrou om Hom te gehoorsaam ontdek ons dat Sy Woord ons nie vasvang nie maar oopmaak.
“Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met 'n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.” – Matteus 7:24 (AFR53)*
Jesus se bekende beeld van die huis op die rots beklemtoon dat groei en volharding nie in skielike groot oomblikke plaasvind nie maar in die stille, daaglikse toepassing van Sy Woord. Wanneer ons Sy leringe ernstig opneem en dit doen, selfs in klein dinge, bou ons ’n lewe wat stand hou. Dis nie dramatiese emosie wat dissipelskap dra nie maar volgehoue gehoorsaamheid.
Hemelse Vader,
U Woord is die lig vir my pad,
’n lamp vir my voete,
en ’n anker vir my hart.
Ek bely dat ek dikwels hoor, maar nie doen nie.
Ek vergeet, ek verslap, ek kies my eie pad.
Here, vergewe my,
en bring my weer terug na U stem.
Plant U Woord diep in my,
sodat dit my denke vernuwe,
my wil rig,
en my lewe vorm.
In die Naam van Jesus,
Amen.
Sit vandag doelbewus tyd opsy om ’n kort gedeelte van die Bybel stadig te lees en te vra: “Wat sê dit vir my lewe vandag?”
Kies een vers om vir die week aan te leer en daagliks toe te pas.
Skryf neer watter areas in jou lewe God se waarheid en leiding nodig het, en bid vir krag om gehoorsaam te wees.
“As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.” – Johannes 8:31 (AFR53)*
Bly ek werklik in God se Woord, of beweeg ek maar ligweg daardeur?
In watter area van my lewe vra God op hierdie oomblik vir eenvoudige, getroue gehoorsaamheid?
Is ek geneig om “redes” uit te dink waarom alles nie op my van toepassing is nie omdat my situasie “uniek” is?