’n Ware geloofsgemeenskap vra innerlike gesindhede wat ons nie altyd vanself het nie, soos nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Dissipelskap gebeur dikwels op die plekke waar ons leer om mekaar te verdra, nie met irritasie nie, maar met liefde. Hier word Christus se karakter in ons gevorm.
Ek druk julle dit op die hart, ek wat ’n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.
Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. – Efesiërs 4:1–6 (AFR83)*
Die stad Efese was ’n smeltkroes van kulture, gelowe en idees. Dit was een van die belangrikste stede in die Romeinse Ryk, en was bekend vir sy handel, sy tempel vir Artemis (die Godin van Liefde), en sy groot etniese diversiteit. Die vroeë kerk in Efese het ontstaan binne hierdie kompleksiteit waar Jode en nie-Jode saam tot geloof gekom het en moes leer om saam te leef, met verskillende gebruike, agtergronde en verwagtinge.
Paulus skryf hierdie brief uit die tronk, waarskynlik in Rome, en noem homself “’n gevangene ter wille van die Here.” Sy woorde is nie oppervlakkig nie – dit kom vanaf iemand wat weet wat dit kos om Christus te volg. In hoofstuk 4 begin hy met ’n ernstige oproep aan hierdie diverse gemeente: Leef waardig... en deel van daardie waardige lewe is om mekaar te verdra in liefde.
Die woord “verdra” in Grieks (anechomenoi) beteken om iets te dra, vas te hou, en nie te laat gaan nie, selfs wanneer dit ongemaklik is. In die konteks van Efese beteken dit: verdra die verskille tussen julle, hou vas aan mekaar, moenie toelaat dat verdeeldheid tussen julle groei nie.
Paulus is realisties oor mense. Ons is verskillend en soms moeilik met mekaar. Genadiglik werk die Heilige Gees in elkeen van ons, en bewerk die eenheid tussen ons. Die oproep is dus nie om verdraagsaamheid te skep nie, maar om dit te bewaar. Hierdie “band van vrede” is broos, en dit moet aktief beskerm word. Binne ons geloofsgemeenskap moet ons juis in moeilike oomblikke leer hoe ons iets van Christus se geduld en liefde kan weerspieël.
In ’n wêreld waar dit maklik is om ander af te skryf, weg te beweeg of ons net te omring met mense wat soos ons dink, is Paulus se oproep radikaal. Hy vra dat God se mense aan mekaar verbind, liefdevol en nederig moet bly. Dis nie altyd maklik nie, maar dit is wat God van ons as dissipels verwag.
Kom ons dink bietjie verder saam oor hoe ons mekaar in liefde kan verdra.
“Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.” – Efesiërs 4:2*
Paulus begin nie met gedrag nie, maar met gesindheid. Om mekaar in liefde te verdra, vra dat ons nederig is en bewus moet wees van ons eie tekortkominge. Sagmoedigheid beteken nie swakheid nie, maar krag onder beheer, en geduld is die vermoë om stadig te wees met veroordeling. Hierdie innerlike houdings word nie outomaties gevorm nie – dit is alles deel van die vrug van die Gees, en dissipelwerk verg dat ons dit elke dag inoefen.
“Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.” – Efesiërs 4:2 (AFR83)*
Die wêreld se idee van “verdra” is om net nie te ontplof nie. Maar Paulus roep ons tot iets dieper, naamlik om te verdra “in liefde”. Dit beteken om ’n ander se swakhede te verdra sonder veroordeling. Hierdie tipe liefde is nie sentimenteel nie, maar eerder volwasse en standvastig.
“Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.” – Efesiërs 4:3 (AFR83)*
Die eenheid tussen gelowiges is nie ons eie prestasie nie; dit is ’n werk van die Heilige Gees. Ons moet dit egter beskerm. Ons beywer onsself daartoe deur verskille te hanteer met respek, deur nie kwaad te praat nie, en deur vrede na te jaag. Ware geestelike volwassenheid word juis sigbaar in hoe ons liefde leef teenoor mense wat nie altyd maklik is om oor die weg mee te kom nie.
Hemelse Vader,
U het my geroep tot gemeenskap,
nie net met U nie, maar ook met ander.
Ek vra dat U my nederig sal maak,
sodat ek nie my eie belang eerste stel nie.
Vorm in my ’n sagmoedige hart,
wat stadig is om te oordeel.
Help my om geduld te hê met diegene wat anders is,
of wat my dalk frustreer.
Laat ek nie net verdra nie,
maar waarlik liefhê in U Naam.
In Jesus se Naam bid ek dit.
Amen.
Dink aan iemand in jou geloofsgemeenskap wat jou soms frustreer, en bid vandag spesifiek vir daardie persoon.
Skryf vir jouself ’n kort gebed of herinnering: “Here, leer my om lief te hê wanneer dit nie maklik is nie.”
Wees doelbewus sag en nederig in een gesprek vandag waar jy anders sou wou optree.
“Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.” – Efesiërs 4:2 (AFR83)*
Is ek besig om eenheid in my gemeente te bewaar, of dra ek soms by tot verdeeldheid?
Hoe kan ek meer ruimte maak vir ander se menslikheid, soos God dit vir my maak?