Ware dissipelskap kos iets, nie net tyd of moeite nie maar jou hele lewe. Jesus roep ons nie om Hom net in ons vrye tyd te volg nie maar om alles aan Hom te onderwerp. Die prys is hoog maar die beloning is groter. Om Hom werklik te volg beteken om Hom bo alles te kies.
’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle: “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders, en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.
“Wie van julle wat ’n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf. Hulle sal sê: ‘Hier is ’n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.’
“Of watter koning wat met ’n ander koning in ’n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie? Anders stuur hy ’n afvaardiging om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is.
“So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.” – Lukas 14:25–33 (AFR83)*
Jesus se bediening op aarde was van so ’n aard dat groot skares sommer vinnig begin het om Hom te volg. Mense het uit alle rigtings na Hom gestroom, sommige uit bewondering vir Sy wonderwerke, ander uit hoop op bevryding, en party net uit nuuskierigheid. Daar was opwinding in die lug. Hierdie Rabbi van Nasaret het nie net met gesag gespreek nie maar Hy het die mag van God gewys deur genesing, vergifnis en bevryding. En almal wou deel hê aan wat Hy gebring het.
Jesus draai egter om en verras die skare met woorde wat sekerlik soos ’n koue wind oor hulle gevee het: “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.” (Lukas 14:26-27)
Hy het geweet hulle het ’n idilliese droom van glorie en van politieke oorwinning gevolg. Maar Hy wou hê hulle moes weet dat om Hom te volg nie status of gemak beteken nie maar oorgawe en opoffering. Die mense moes verstaan dat dissipelskap nie iets is wat by ’n bestaande lewe bygevoeg word soos ’n bykomstigheid nie. Dit is ’n nuwe lewenswyse met ’n nuwe kern.
Om hierdie punt tuis te bring gebruik Jesus twee metafore: iemand wat ’n toring wil bou en iemand wat oorlog wil voer. Beide moet eers die koste bereken voor hulle begin. Anders sal hulle nie kan klaarmaak nie en hulle sal bespot word. Jesus sê hiermee dat dissipelskap nadenke vra, oorgawe en ’n bereidheid om alles te gee.
En dan kom die radikale sin: “Elkeen van julle wat nie afstand doen van alles wat hy het nie, kan nie my dissipel wees nie.” Dit is nie ’n oproep tot armoede vir almal nie maar ’n uitnodiging tot innerlike losmaking, ’n bereidheid om niks terug te hou nie. Jesus wil nie net ons tyd of ons energie hê nie. Hy wil ons hele wese hê, volkome.
Kom ons dink bietjie verder saam oor die prys van dissipelskap.
“So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.” - Lukas 14:33 (AFR83)*
Een klein maar betekenisvolle detail in Lukas 14:33 lê in die Griekse woord apotassetai, wat met “afstand doen” vertaal word. Hierdie woord beteken nie bloot om iets prys te gee nie maar dit dra die idee van bewustelike afskeid neem, trouens, dit word ook vertaal as om iets te verwerp. En hier lê ’n verrassende geheim. Jesus vra nie net ’n radikale daad van opoffering nie. Hy roep ons tot ’n innerlike houding van gereedheid om afskeid te neem van enigiets wat Hom in ons lewens tweede stel. Hierdie “verwerping” is dus nie net uiterlik nie maar ’n innerlike losmaking - ’n geestelike posisie waarin jy sê: “Here, niks behoort meer aan my nie. Alles is beskikbaar vir U.”
Ware dissipelskap begin nie by wat jy verloor nie maar by wat jy loslaat, met oop hande en ’n hart wat vry is om Christus eerste te stel. Dit is die ware prys en die begin van ’n onmeetbare beloning.
“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” – Matteus 6:21 (AFR83)*
Jesus se woorde is nie ’n oproep om alles fisies te verkoop nie, maar om innerlik los te wees van alles wat jou vashou. Jy kan iets besit, sonder dat dit jou besit. Die toets is: As Jesus vandag vra om iets soos ’n posisie, ’n verhouding, of ’n droom prys te gee, sal jy kan? Dissipelskap beteken om bereid te wees om niks as belangriker as Hom te beskou nie.
“...ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” – Filippense 3:8 (AFR83)*
Paulus, wat invloed, geleerdheid en status gehad het, het alles as waardeloos begin sien nadat hy Christus ontmoet het. Want in Christus het hy ware rykdom gevind. Die pad van oorgawe is nie ’n pad van verlies nie, maar van ontdekking. Wanneer ons alles prysgee vir Jesus, ontvang ons alles wat ons werklik nodig het. Die prys is groot, maar die beloning is onmeetbaar.
Here Jesus,
U het nie net vir my gesterf nie,
U het my geroep om U te volg.
Nie met helfte van my hart nie,
maar met alles wat ek is.
Help my om nie weg te skram nie, maar te kom
met oop hande en ’n oop hart.
Ek bely dat ek soms vashou aan dinge wat ek moet los.
My sekuriteit, my eie planne, my drome.
Here, wys my waar ek nog nie oorgegee het nie.
Maak my vry van alles wat my bind, sodat ek volkome U s’n kan wees.
Gee my die moed om die koste te bereken,
en die genade om die pad te stap.
Ek kies vandag om U weer alles te gee,
nie met vrees nie, maar met vertroue.
In U Naam bid ek dit.
Amen.
Neem vandag ’n stil oomblik en vra eerlik: Watter aspek in my eie lewe sou ek moeilik vind om vir Christus ten volle prys te gee. Skryf neer watter dinge, mense of drome dalk onbewustelik vir jou belangriker geraak het as Jesus self. Bid en vra vir ’n hart wat bereid is om alles aan Hom te gee, en stap dan ’n klein praktiese tree van oorgawe.
Dink na oor hoe jy jou tyd spandeer. Is daar areas waar jy tyd kan opoffer om meer op jou verhouding met Christus te fokus?
Lees die volledige teks van Lukas 14: 25-35, waar Jesus praat oor die eise van dissipelskap. Dink bietjie daaroor na wat hierdie teks prakties in jou lewe sal beteken.
“So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.” - Lukas 14:33 (AFR83)*
Wat is die “alles” wat ek moet heroorweeg in die lig van Jesus se oproep? Watter ruimtes in my lewe moet ek oopmaak om Christus eerste te stel?
Hoe kan ek meer doelgerig leef om Christus te volg in my daaglikse roetine?
Wat is die grootste struikelblokke wat my verhinder om ’n meer toegewyde dissipel te wees, en hoe kan ek dit oorkom?