Dissipelskap begin in die hart, maar dit verander ook ons denke. Jesus nooi ons uit om ’n nuwe manier wat God se koninkryk weerspieël te sien en daarvolgens te leef. Hierdie verandering begin wanneer ons leer om soos kinders te word wat vertrou en in nederigheid leef. Om Sy dissipel te wees, beteken om anders te dink, en anders te leef.
In daardie tyd het die dissipels by Jesus gekom met die vraag: “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?”
Hy het 'n kindjie nader geroep en hom tussen hulle laat staan en gesê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.” – Matteus 18:1–5 (AFR83)*
Die dissipels het met mekaar gestry oor ’n vraag wat vreemd klink in die lig van Jesus se lering: “Wie is die grootste in die koninkryk van die hemel?” Dit was kort ná ’n seisoen van wonderwerke en onderrig waar hulle gesien het hoe Jesus siekes genees, duiwels uitdryf en selfs mense uit die dood opwek. Die versoeking het gekom om status te soek. As Jesus die Messias is, dan móét daar plekke van eer wees, nie waar nie?
In plaas van ’n direkte antwoord, doen Jesus iets onverwags deur ’n klein kindjie nader te roep. Dié kindjie staan eenvoudig daar, wagtend op Jesus. Hy wys na hom en sê: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle nooit die koninkryk van die hemel binnegaan nie.”
Hierdie woorde moes hulle baie skaam laat kry het. Hulle stry oor status, terwyl Jesus diensbaarheid beklemtoon. Jesus keer egter weer die wêreld se waardes om waar Hy wys dat in God se koninkryk is grootsheid nie gebaseer op mag of posisie nie, maar op afhanklikheid en eenvoud. Dít is die denkpatroon van die hemel.
Hierdie oproep om soos ’n kind te word, gaan nie oor naïwiteit nie, maar oor innerlike oorgawe. Natuurlik moet ons nie nugtere beplanning van ons lewens, wat volgens Sy leiding is, nie oorboord gooi nie, maar dit vra dat ons die idee dat ons self weet wat die beste is, eerder aflê en leer om weer op God te vertrou. Om die wêreld, ander mense en onsself deur God se oë te begin sien.
Jesus se lering gaan dus nie net oor dade nie, maar oor denke. Hy roep ons tot metanoia: dit is bekering van denke. ’n Dissipel is iemand wat voortdurend toelaat dat die Gees ons denke vernuwe. En soos ons dink, so leef ons. Dis hoekom hierdie eenvoudige beeld van ’n kind soveel krag dra.
Kom ons dink saam bietjie verder oor ’n veranderde denkpatroon.
“Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.” – Matteus 18:3 (AFR83)*
Jesus gebruik nie die kind as ’n illustrasie van onskuld of naïwiteit nie, maar wel van vertroue en ontvanklikheid. Kinders kom met oop hande en verwagting. Hulle vertrou eenvoudig en sien nie hul eie status nie. Om soos ’n kind te word, beteken om God te vertrou met ’n hart wat nie alles wil beheer of bewys nie, maar eenvoudig wil behoort.
“...laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” – Romeine 12:2 (AFR83)*
Toe Paulus hierdie woorde skryf, het hy in die hart van die Romeinse Ryk geleef. Dit was ’n samelewing wat gebou was op orde, eer, status en prestasie. Rome het ’n sterk kultuur van aanpassing en lojaliteit aan die ryk gehad. Daar was ’n verwagting dat jy soos ’n goeie Romein moes dink, optree, en glo om in te pas. Selfs in godsdiens het mense die keiser as ’n soort god gesien. Andersheid is verdag gemaak, en onafhanklike denke is selde verwelkom. Jy moes vorm aanneem soos die kultuur dit voorskryf.
In daardie konteks skryf Paulus hierdie woorde: “Moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar laat God julle denke vernuwe…” Dit is ’n oproep om nie te buig onder die druk van kulturele verwagtings nie, maar om ’n manier van leef en dink te aanvaar wat gevorm word deur Christus, en nie die keiser of die wêreld om jou nie. Dit is om téén die stroom te kan swem. Paulus self het hierdie pad gestap waar hy ’n man was wat eers die kerk vervolg het omdat hy oortuig was dat hy reg is, na iemand wat alles prysgegee het omdat sy denke herskep is deur ’n ontmoeting met Jesus. Romeine 12:2 is dus nie net ’n teologiese stelling nie, maar Paulus se eie storie in een sin: “Ek het opgehou om soos almal te dink, en God het my nuut gemaak van binne af.”
““Ja, my planne is nie julle planne nie, en julle paaie is nie my paaie nie,” is die uitspraak van die Here.” – Jesaja 55:8 (AFR83)*
Dissipels moet leer om te leef volgens ’n ander stel waardes: die minste is die grootste, die laaste sal eerste wees, en krag word in swakheid volbring. Om hierdie dinge werklik te glo, moet ons gedagtes herskep word. Hierdie herskepping gebeur wanneer ons God toelaat om ons denke te hervorm deur Sy Woord en Gees.
Here Jesus,
Ek bely dat ek dikwels dink soos die wêreld.
Leer my om soos ’n kind te vertrou.
Breek trots en selfgenoegsaamheid in my af.
Maak my oë oop vir U waarheid.
Vernuwe my hart en gedagtes.
Laat my sien soos U sien,
en leef soos U leef.
Ek wil verander word van binne af.
Gee my ’n gees,
en ’n nederige hart.
Ek wil soos U word.
Amen.
Dink aan ’n aspek van jou denke (bv. oor jouself, ander, sukses of mislukking) wat God wil vernuwe. Skryf dit neer en bid daaroor.
Probeer vandag om met die gesindheid van ’n kind na God toe te kom: met eerlikheid, vertroue en verwagting.
Identifiseer een spesifieke situasie vandag waar jy tipies reageer met ’n wêreldse denkpatroon. Oefen om in daardie situasie bewustelik te kies vir ’n meer Christus-gesentreerde reaksie.
Oefen van nou af om, wanneer jy ‘n opinie vorm oor iemand anders se doen en late, uit God se perspektief te kyk.
“Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.” – Matteus 18:3 (AFR83)*
Watter ou denkwyses hou my terug van groei in Christus?
Hoe kan ek daagliks toelaat dat God my denke vernuwe en herskep?