Hierdie week se tema is Die Fondament van Dissipelskap. Dissipelskap is nie ‘n aanvullende aspek van geloof nie, maar die kern van wat dit beteken om Jesus te volg. Dit begin met ‘n oproep en ’n antwoord, en ontwikkel na liefde vir God en liefde vir ons naaste.
In ons daaglikse lewe is dit maklik om geloof te reduseer tot ons geloofspraktyke, maar ware dissipelskap vra ‘n lewenspad van verhouding met God. Kom ons kyk na ons reaksie op Jesus se uitnodiging om Hom te volg en om na te dink oor wat dissipelskap behels.
Wanneer jy die woorde “Volg My” hoor, wat is die eerste ding wat by jou opkom of jou tref? Deel ‘n herinnering of indruk van hoe jy in jou lewe al die Here se roepstem ervaar het.
Lees Matteus 4:18-22.
Wat sê hierdie vers vir ons vandag? Wat beteken dit vir jou persoonlik om ‘n dissipel te wees wat “gevorm word” eerder as een wat net presteer?
Let asseblief daarop dat julle nie elke vraag hieronder hoef te beantwoord nie. Die doel is nie om deur ‘n lys vrae te werk nie, maar om as geloofsgemeenskap eerlik en opreg saam te gesels. Hierdie vrae dien slegs as ‘n riglyn om die gesprek aan die gang te kry en ruimte te skep vir refleksie. As julle gesprek in ‘n ander rigting beweeg, is dit ook reg so. Laat die Heilige Gees julle lei en vertrou dat Hy elkeen in die groep sal aanraak en aanmoedig om ‘n pad van dissipelskap met Jesus te begin of te verdiep.
Dit is nogal interessant dat dissipelskap begin met ‘n oproep van Jesus eerder as met ons eie pogings? Wat sê dit van ons dissipelskapsreis?
In watter opsigte is dit vir ons moeilik om werklik op Jesus se oproep te reageer?
Wat moet ons moontlik los om Hom volkome te volg?
Hoe beïnvloed liefde vir God ons begrip van dissipelskap?
Is daar ’n gebied in jou lewe waar jy voel dat God iets van jou vra, maar jy is steeds huiwerig om te “laat gaan”? Wat kan jou help om met geloof daardie stap te neem?
Hoe kan ons ontvanklik word om gevorm te word deur Christus in ons dissipelskapreis?
Vra die groep om drie gebedspunte te identifiseer wat verband hou met hierdie week se tema. Dit kan byvoorbeeld wees vir ‘n hart wat gewillig is om Jesus te volg, vir die moed om ander liefdevol te dien, of vir ‘n nuwe honger na God se Woord. Moedig die groep aan om ook vir mekaar persoonlik te bid waar nodig.
Jesus roep ons nie omdat ons gereed is nie maar omdat Hy bereid is om ons te vorm. Volg Hom met vertroue en laat toe dat Hy jou elke dag nuut maak.