Dissipelskap is nie net ’n begeerte om Jesus te volg nie, maar ’n lewenspad wat opofferings vra. Hierdie week het ons die uitdagings van dissipelskap van nader bekyk: die prys wat dit vra, die daaglikse sterwe aan onsself, die teenwoordigheid van lyding, en die voorbeeld van nederigheid, getrouheid en nuwe denke. Elke aspek herinner ons dat om Christus te volg, beteken om Hom met ons hele wese te vertrou en navolg.
“Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg...” – Lukas 9:23 (AFR83)*
Hallo, dit is weer ek. Die dissipel van Dag 7, wat jy ’n week gelede ontmoet het. Kom sit vandag saam met my, want ek wil jou vertel hoe hierdie week se waarhede my weer herinner het aan die pad van ware dissipelskap.
Maandag het ek weer onthou dat Jesus nie mooi praatjies gebruik om mense te lok nie. Hy het reguit gepraat: as jy Hom wil volg, sal dit jou iets kos. Ek onthou hoe Hy ons gewaarsku het om die koste te bereken. Nie omdat Hy ons wou afskrik nie, maar omdat Hy wou hê ons moet weet: ware dissipelskap vra alles. Maar ek het geleer dat die beloning groter is as enigiets wat ons kan verloor.
Ek het weer die stem in my hart gehoor: "Neem elke dag jou kruis op." Nie net as dinge moeilik gaan nie, maar elke dag. Ek het gedink aan hoe maklik dit is om myself en my eie planne en begeertes voorop te stel. Maar Jesus het my geleer: juis wanneer ek my lewe prysgee, vind ek ware lewe. Die kruis is nie ’n las nie, dis ’n geleentheid om te leef soos Christus leef.
Woensdag het ek teruggedink aan daardie tye toe ek werklik moes ly ter wille van Sy Naam. Ek het nie altyd verstaan hoekom nie, maar ek het geleer dat lyding nie nét ’n las is nie, maar dikwels ’n uitnodiging om nader aan Christus te leef. Ek onthou hoe Petrus geskryf het dat ons nie daaroor verbaas moet wees nie. Daardie woorde het my diep getroos. In lyding het ek Hom soms die duidelikste ervaar.
Ek onthou nog hoe Hy ons voete gewas het. Die Meester self... op Sy knieë. Ek het Hom dopgehou en gedink: "As Hý so dien, hoe kan ék dan probeer om bo ander te wees?" Hy het nie net geleer van nederigheid nie. Hy was nederigheid. En as ek Sy dissipel wil wees, moet ek dieselfde gesindheid aanneem: om nie te soek na posisie nie, maar na diens.
Donderdag het ek weer besef dat dissipelskap gewoonlik nie in die groot oomblikke gebeur nie. Dis in die daaglikse getrouheid, in die gewone dinge wat niemand sien nie. Jesus kyk na die hart. En Hy vorm my juis wanneer ek Hom volg in die klein goed. Ek het ook besef dat ek nie kan volhard sonder ’n vernuwing van my denke nie. Om soos ’n kind te vertrou, om my denke te laat verander is hoe die koninkryk in my gestalte kry.
Ek onthou hoe ons oor die belangrikste plek gestry het, asof Jesus se koninkryk soos dié van die wêreld gewerk het. Maar toe Hy ’n kind nader roep, het alles stil geword. Daardie oomblik het iets in my begin skuif. Ek het besef dat ware dissipelskap nie by aansien of prestasie begin nie, maar by ’n veranderde hart en ’n nuwe manier van dink. Jesus het my uitgenooi om soos ’n kind te word, vertrouend en nederig. Hy het my genooi om nie net anders te glo nie, maar ook anders te sien. Ek leer steeds elke dag dat ek nie net met my voete moet volg nie, maar ook met my denke. Want as my denke verander, verander my lewe.
Kom bid gerus saam met my...
Here Jesus,
U het my nie geroep tot gemak nie,
maar tot waarheid en oorgawe.
Leer my om die prys te bereken
met ’n hart wat vol liefde is.
Gee my genade om elke dag my eie wil neer te lê,
my kruis op te neem, en U met oorgawe te volg.
Wees U asseblief teenwoordig in my lyding.
Word verheerlik in my daaglikse lewe.
Vernuwe my denke om soos ’n dissipel te leef: vol vertroue en oop vir U stem.
Amen.
Neem daardie papier wat jy verlede week agter jou deur of in jou kas geplak het, en voeg daarby watter boodskap hierdie week jou die meeste aangespreek het en hoekom. Plak die papier weer op sy plek daar agter die deur of in die kas.
Lees weer Lukas 9:23 en bid dit daagliks as ’n persoonlike verbintenis tot dissipelskap.
“Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg...” – Lukas 9:23 (AFR83)*
In watter opsig het hierdie week se temas my begrip van dissipelskap verdiep?
Is daar iets wat ek nog vashou wat ek vir Christus moet oorgee?
Hoe kan ek dissipelskap prakties uitleef in die eenvoudige dele van my dag?