Die Evangelie is nie ’n geheim wat bewaar moet word nie. Dit is ’n boodskap wat gedeel moet word. Jesus het nie net gekom om ons te red nie, maar ook om ons sendelinge van Sy liefde en waarheid te maak. Dissipelskap beteken om getuies van Sy genade te wees, veral met ons dade en lewens, en natuurlik ook met ons woorde.
Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”
Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” – Handelinge 1:6–8 (AFR83)*
Jesus staan by Sy dissipels op die Olyfberg net voor Sy hemelvaart. Die gesprek is ernstig en vol verwagting. Die dissipels vra Hom of die tyd nou aangebreek het vir die herstel van Israel se koninkryk. Hulle dink nog in aardse terme, oor mag, posisie en die vervulling van nasionale hoop.
Maar Jesus draai hul fokus na iets groters. “Julle sal krag ontvang, en julle sal My getuies wees.” Dit was Sy laaste woorde voor Hy na die hemel opgevaar het. Dit was ’n opdrag wat die rigting van die vroeë kerk bepaal het. Dit was nie ’n voorstel nie. Dit was ’n roeping, om die Evangelie te dra van Jerusalem tot by die uithoeke van die aarde.
Hierdie woorde het egter begin in ’n spesifieke konteks, naamlik die krag van die Heilige Gees. Jesus het nie net ’n taak gegee nie. Hy het toerusting in die vorm van die Heilige Gees belowe. Getuienis sou nie op vaardigheid of moed berus het nie, maar op Sy teenwoordigheid in hulle deur die Heilige Gees. En toe die Heilige Gees met Pinkster uitgestort is, het die wêreld nooit weer dieselfde gelyk nie.
Die eerste gelowiges het die Evangelie gedeel in die tempel in Jerusalem, in huise, markpleine en tronke. Hulle het vervolging getrotseer, maar hulle het nie stilgebly nie. Hulle het gesien en beleef dat Jesus leef, en dit moes gedeel word.
Ook vandag is die oproep dieselfde. Elke dissipel is ’n draer van die Goeie Nuus. Dit begin nie in Samaria of aan die uiteindes van die aarde nie. Dit begin in jou eie “Jerusalem”, waar jy nou leef, werk en beweeg. Die wêreld het steeds getuies nodig, en Hy roep jou, want net jy is daar waar jy moet getuig.
Kom ons dink saam bietjie verder oor hoe die Evangelie gedeel kan word.
“...julle sal my getuies wees…” – Handelinge 1:8 (AFR83)*
Wanneer Jesus sê “julle sal my getuies wees…”, gebruik Hy die Griekse woord martures, waarvan ons later die woord “martelaar” kry. In die vroeë kerk het hierdie woord vinnig ’n dubbele betekenis gekry: ’n getuie was nie net iemand wat iets vertel het nie, maar iemand wat bereid was om daarvoor te ly en selfs te sterf. Met ander woorde, in die vroeë kerk se verstaan van die woord beteken om 'n getuie te wees nie net dat ons praat oor Jesus nie, maar dat ons Hom so moet liefhê dat ons selfs bereid sal wees om vir Hom te ly en te sterf.
En dít bring die vers baie naby aan ons daaglikse dissipelskap. Want om ’n getuie te wees, is nie altyd om op ’n verhoog te praat of traktaatjies uit te deel nie. Dis om jou lewe te leef op ’n manier wat wys dat Jesus jou Koning is, selfs as dit jou iets kos. Dit mag beteken om stil te staan by iemand wat seer het, om vir iemand op te staan, of om getrou te wees aan jou waardes wanneer dit ongewild is. In daardie oomblikke sê jou lewe: “Ek het Hom gesien. Ek het Hom beleef. En ek kan nie stilbly nie.”
Getuienis begin dus nie in die wêreld daar buite nie, maar in jou hart, waar jy besluit: “Ek sal leef soos iemand wat Jesus ken.” En dan gee die Heilige Gees die krag, nie net om te praat nie, maar om standvastig te bly, in waarheid en liefde, waar jy ook al is.
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom…” – Handelinge 1:8 (AFR83)*
Jesus vra nie van ons om Sy boodskap te dra in ons eie krag nie. Die Heilige Gees gee ons moed, wysheid en geleenthede. Soms is dit deur woorde, ander kere deur dade, en dikwels net deur teenwoordigheid. Die Gees maak ons sensitief vir mense se behoeftes en oop vir geleenthede om Jesus se liefde sigbaar te maak.
“…in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld.” – Handelinge 1:8 (AFR83)*
Die boodskap van Jesus is universeel en is nie beperk tot een groep, volk of taal nie. Dit beweeg van naby na ver: van ons gesinne, na ons gemeenskappe, na nasies. En die wonder is dat God gewone mense gebruik om hierdie buitengewone boodskap te dra. Jy het ’n rol in hierdie groter storie.
Here Jesus,
U is die Goeie Nuus.
U het my eerste liefgehad,
en my met genade gevind.
Ek bely dat ek soms stilbly
wanneer ek moet getuig.
Gee my moed om U te bely.
Wys my waar U my wil gebruik.
Laat my lewe ’n getuienis wees
van U liefde en waarheid.
Amen.
Skryf die name neer van drie mense in jou lewe wat nog nie die Here ken nie en bid spesifiek vir hulle.
Vra God vandag vir een praktiese geleentheid om Sy liefde met iemand te deel.
Lees Romeine 10:13–15 en vra jouself af: Hoe kan ek deel wees van God se plan om Sy Woord te bring na dié wat dit nog nie gehoor het nie?
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees…” – Handelinge 1:8 (AFR83)*
Wat keer my tans om vrymoedig die Evangelie te deel?
Hoe kan ek meer sensitief wees vir die leiding van die Heilige Gees in my getuienis?