Dissipelskap is nie iets wat ons net ontvang nie, maar is iets wat ons oordra. Jesus het nie net volgelinge gemaak nie. Hy het hulle geleer om ook ander te leer. Wanneer ons mekaar onderrig en aanmoedig deur die Waarheid, word dissipelskap vermenigvuldig. Ware dissipels inspireer ander om Christus se beeld met hulle eie lewe uit te dra.
Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” – Matteus 28:16–20 (AFR83)*
Die opstanding het alles verander. Jesus het die dood oorwin, verskyn aan Sy volgelinge en hulle geloof herstel. Op ’n berg in Galilea kom Hy na hulle toe, nie net om hulle te troos nie, maar om hulle uit te stuur. Hierdie was nie net ’n afskeid nie, maar ’n sendingopdrag. En dit het nie net op hulle van toepassing gebly nie, maar dit geld ook vir ons.
Jesus begin met ’n eenvoudige, maar deurslaggewende opdrag: “Gaan dan heen, maak dissipels…” Hierdie woorde staan bekend as die Groot Opdrag. Dis nie ’n voorstel of ’n opsie nie, maar dit is die hart van die Christenroeping. Ons word nie net gered om gered te wees nie, maar om ander te lei op die pad van dissipelskap.
Die woorde “leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” wys dat dissipelskap nie net bestaan uit evangelisasie nie, maar uit aanhoudende onderrig. Ware dissipelskap leer mense om gehoorsaam te wees aan Christus; nie net deur lering nie, maar deur voorbeeld, begeleiding en volharding.
Jesus het drie jaar lank self hierdie proses gevolg. Hy het mense naby Hom geroep, hulle elke dag onderrig, hulle reggehelp, liefgehad, en uiteindelik gestuur. Sy model van dissipelskap was intens, verhouding-gegrond en prakties. En Hy roep ons om dieselfde te doen: om ander te leer soos Hy ons geleer het.
Vandag is die wêreld vol mense wat soek na betekenis, waarheid en leiding. En die Here het elkeen van ons geroep om ander te leer om Hom te volg. Nie perfek nie, maar getrou. Nie met alles uitgewerk nie, maar met ’n gesindheid van bereidwilligheid.
Kom ons dink saam bietjie verder oor om dissipels te maak deur ander te leer.
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies…” - Matteus 28:19 (AFR53)*
Hierdie teks is een van die mees bekende opdragte van Jesus, dikwels genoem die Groot Opdrag. Daar is egter iets besonder interessant aan die manier waarop Jesus dit formuleer, wat nie altyd in Afrikaanse vertalings opval nie.
In Grieks begin die sin nie met ’n bevel soos “gaan!” nie, maar met ’n werkwoordvorm wat eerder "om uit te gaan" (Poreuthentes) beteken. Dit impliseer om aan die gang te wees, en dui nie net ’n eenmalige aksie aan nie. ’n Meer letterlike vertaling sou kon wees: “Terwyl julle gaan, maak dissipels...” Dit verander die klem: die fokus is nie net op sendingreise of spesiale geleenthede nie, maar op 'n lewenswyse van voortdurende deelname aan God se opdrag. Dissipels maak dissipels – in die loop van jou gewone lewe, terwyl jy werk toe gaan, saam met ander leef, kinders grootmaak, klasgee, of vriende ontvang. Dis ’n opdrag vir alledaagse geloof, nie net vir geestelike geleenthede nie.
“… leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” - Matteus 28:20 (AFR83)*
Die inhoud van dissipelskap is Christus se voorbeeld. Meer as net die teorie, wys Hy ons hoe om dit te leef. Jesus het self Sy dissipels deur lering én voorbeeld onderrig. Wanneer ons ander leer, dra ons Sy Woorde en Sy wysheid oor. Ons leer nie net uit boeke nie, maar ons leef dit saam uit. En so word ons lewens gevorm.
Jesus het teen die berg opgegaan en dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom. Hy het toe twaalf, wat Hy apostels genoem het, aangestel om by Hom te bly sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek. Hulle het ook die mag ontvang om bose geeste uit te drywe. Hy het hierdie twaalf aangestel: Petrus, soos Hy Simon genoem het, Jakobus seun van Sebedeus, en Johannes die broer van Jakobus vir hulle het Hy die bynaam Boanerges gegee, dit wil sê “manne van die donder”—Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het. – Markus 3:13–19 (AFR83)*
Jesus se dissipels was sy metgeselle en nie net studente nie. Hulle het saam met Hom geleef en gegroei. Dissipelskap gebeur die beste in die konteks van verhouding. Wanneer mense sien hoe ons leef en nie net wat ons sê nie, word hierdie verhouding gevorm. Elke ontmoeting, gesprek, of wandel saam met iemand is ’n geleentheid om Christus sigbaar te maak. Ons leer terwyl ons saamleef.
Here Jesus,
U het my eerste liefgehad,
en my geroep om U te volg.
U het my geleer deur U Woord,
en my gevorm deur genade.
Nou roep U my om ander te leer soos U my leer.
Ek bely my onsekerheid,
ek voel dikwels nie gereed nie.
U belowe om saam met my te wees.
Vul my met wysheid en moed,
gee my ’n hart vir mense.
Amen.
Dink aan een persoon in jou lewe wat jy kan mentor, ondersteun of bemoedig in hul geloofswandel. Bid vir hulle en maak kontak.
Dink weer na oor Jesus se voorbeeld van dissipelskap (lees byvoorbeeld Markus 3:13–19 of Johannes 13), en let op hoe Hy mense gevorm het.
Vra die Here om jou te wys hoe jy aktief kan bydra tot ander se groei. Dalk in ’n kleingroep, ’n vriendskap, of ’n gesinsomgewing.
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies... leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” – Matteus 28:19–20 (AFR53&83)*
Hoe kan ek dissipelskap deel maak van my alledaagse verhoudings?
Watter struikelblokke keer my om ander te leer, en hoe kan ek dit met God se hulp oorkom?
Waar skiet my voorbeeld as disssipel tekort?