Ware dissipelskap is nie ’n pad van selfbehoud nie maar van oorgawe. Jesus roep ons om ons lewens aan Hom te gee en in daardie oorgawe ontdek ons wat dit beteken om werklik te leef. Die beloning is ewige lewe. ’n Lewe wat nie eindig nie en reeds nou met betekenis gevul is.
“En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” – Romeine 8:17-18 (AFR83)*
Wanneer Paulus in Romeine 8 skryf oor die identiteit van gelowiges as kinders van God, plaas hy dit binne die groter prentjie van lyding én heerlikheid. Hy maak dit duidelik: as kinders van God is ons ook mede-erfgename saam met Christus. Maar hierdie erfenis sluit in dat ons dikwels deel het aan Christus se lyding, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.
Hierdie boodskap het 'n besonderse betekenis vir Paulus se eerste lesers gehad, wat dikwels onder vervolging en sosiale uitsluiting gely het as gevolg van hul geloof in Christus. Paulus skryf nie om lyding te ontken nie, maar om dit in perspektief te plaas. Hy nooi gelowiges om verder te kyk as die onmiddellike swaarkry en om hul oë te rig op die heerlikheid wat nog gaan kom. Dit is ’n heerlikheid wat soveel groter is as enige pyn of verlies wat ons nou kan ervaar.
Paulus se woorde is nie net troos nie, maar ook ’n bevestiging dat ons nie alleen is nie, en dat ons lyding nie sonder betekenis is nie. Dit is deel van ’n pad wat lei na iets verhewe, naamlik deelname aan die heerlikheid van Christus self. Hierin lê die belofte van die ewige lewe, nie net as ’n toekomstige werklikheid nie, maar as ’n teenswoordige hoop wat nou reeds krag gee.
Soos met Jesus se oproep in Lukas 9 om die kruis op te neem, herinner Paulus ons daaraan dat geloof ’n pad van oorgawe is. Maar dit is ook ’n pad wat lei na ’n erfenis. Een wat nie verganklik is nie, maar ewig. En juis omdat ons weet dat die heerlikheid wat kom, nie net ons swaarkry sal vervang nie, maar dit sal oortref, kan ons volhard in hoop, in geloof, en in vreugde.
Die ewige lewe is dus nie bloot ’n beloning vir lyding nie maar ’n uitnodiging om saam met Christus in ’n nuwe soort lewe te deel. Hierdie nuwe lewe is geanker in die wete dat ons kinders van God is. Geliefd, vasgehou en bestem vir heerlikheid.
Kom ons dink saam bietjie verder oor die beloning van die Ewige Lewe.
“...elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.” – Lukas 9:24 (AFR83)*
In die Grieks word die werkwoord apolesē gebruik om die woord “prysgee” in ons Bybels weer te gee. Dit is ’n woord wat op verskeie maniere vertaal kan word, byvoorbeeld “verloor”, “vernietig” of selfs “opgee”. Wat interessant is, is dat Jesus hierdie sterk woord gebruik juis om iets te beskryf wat nie verlore gaan nie maar behou word. Hy gebruik dus ’n woord wat klink na verlies maar in Sy mond word dit ’n deur na lewe.
En hier lê die paradoks. Jesus sê nie net, “wie sy lewe gee,” nie. Hy sê, wie dit “verloor vir My onthalwe.” Die sleutel is nie net in die verlies nie maar in vir wie jy dit verloor. Hierdie “verlies” is nie ’n tragedie nie. Dis ’n ruiltransaksie. Jy gee die lewe prys wat jy self probeer beheer en in ruil kry jy ’n lewe wat geanker is in Christus. Vry, ewig en vol betekenis. Jy verloor nie jou lewe wanneer jy dit vir Christus gee nie. Jy vind dit vir die eerste keer werklik.
Om hierdie saak nog duideliker te stel kan ons dink aan Adam en Eva voor die sondeval. Hulle het volledig op God vertrou en so in ’n rustige vryheid gelewe dat God in beheer is en dat Hy hulle beste belange op die hals dra. Na die sondeval het die lewe verander in ’n gesukkel om vir myself te sorg. Deur ons lewens prys te gee vir God is ons nie besig om iets te verloor nie maar eerder om die vryheid van Sy voorsiening raak te sien en daarin te begin wandel.
Hierdie is ongetwyfeld ’n proses wat tyd vat, want eers as ons God regtig vertrou kan ons in hierdie vryheid inbeweeg. Maar daar is ’n verantwoordelikheid op ons om ten minste elke dag ’n stappie na daardie vryheid in Christus te neem.
“En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond agterlaat ter wille van my Naam, sal honderd maal soveel ontvang…” – Matteus 19:29 (AFR20)*
Jesus erken dat dissipelskap offers vra. Ons gee op sekere drome, gemak en beheer. Maar ons ontvang soveel meer. Gemeenskap, vrede, doelgerigtheid en uiteindelik die ewige lewe. Hierdie beloning is nie net iets wat wag ná die dood nie. Dit begin reeds nou, in ’n lewe wat in Christus gevind word. Dit is ’n lewe gevul met Sy teenwoordigheid, Sy vreugde en Sy vrede.
“Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” – 2 Korintiërs 4:18 (AFR83)*
Wanneer ons ons lewens vir Christus gee, is ons hoop stewig geanker in die ewige, in teenstelling met die tydelike dinge van hierdie wêreld. Swaar tye mag kom, maar selfs dan hou die heerlikheid van die ewige lewe ons vas. Dit gee sin aan ons pyn, krag in ons swakheid, en selfs vreugde te midde van vervolging. Ons weet dat hierdie wêreld met al sy aanloklikhede nie die einde is nie. Die dinge wat ons hier sien is tydelik en verganklik. Maar wat ons nou in geloof saai, sal ons eendag in onbeskryflike heerlikheid oes. Ons fokus verskuif van die tydelike na die ewige, na dit wat werklik saak maak.
Here Jesus,
Dankie dat U my nie roep tot leegheid nie,
maar tot vervulling;
nie tot verlies nie,
maar tot ware oorwinning.
Maak my vry van die vrees om te verloor,
en vul my met die hoop van die ewige lewe.
Leer my om in elke besluit U wil bo my eie te kies.
In U Naam bid ek dit,
Amen.
Vra jouself af: Is daar iets wat ek vashou wat ek vir Christus moet oorgee?
Skryf neer wat die ewige lewe vir jou beteken. Nie net ná die dood nie, maar nou reeds.
Bemoedig iemand wat swaar kry met die herinnering aan die ewige beloning wat Christus belowe het.
“Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.” – Romeine 8:17 (AFR83)*
In watter opsigte probeer ek nog my lewe self beheer, in plaas daarvan om dit aan Christus te gee?
Hoe beïnvloed die wete van die ewige lewe my keuses en prioriteite vandag?