Dissipelskap is nie ’n solo-reis nie. Ons word geroep om mekaar se laste te dra, mekaar op te bou, en saam te groei in Christus. In ’n wêreld vol isolasie en onverskilligheid, groei ons geloof waarlik sterker wanneer dit in gemeenskap geleef word. Gemeenskap bring troos, aanmoediging en geestelike gesondheid.
Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself. Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ’n ander te vergelyk. Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het. – Galasiërs 6:1–5 (AFR83)*
Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. Dié wat slaap is van die nag; en die wat hulle dronk drink, is van die nag. Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by Sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.
Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen. – 1 Thessalonisense 5:5–11 (AFR83)*
Die vroeë Christelike gemeentes het ontstaan in ’n tyd van politieke spanning, godsdienstige verdeeldheid, en sosiale onsekerheid. Vir baie gelowiges in die eerste eeu het die besluit om Christus te volg ’n werklike verlies beteken: verlies van status, inkomste, selfs familieverbintenis. Hulle familie uit die Jodedom het hulle as ketters beskou. Die Romeinse owerhede het hulle as ’n bedreiging vir die keiseraanbidding-kultus gesien. Hulle het hulleself in die minderheid bevind waar hulle kultureel en moreel geïsoleer is.
In stede soos Tessalonika en Galasië het klein, brose gemeenskappe van gelowiges bymekaargekom in huise, waar hulle hulle nuutgevonde geloof uitgeleef het met eenvoud, maar ook met groot risiko. Daar was geen regstelsel om hulle te beskerm nie, geen gemaklike samelewingsorde wat hulle ondersteun het nie. Inteendeel, hul geloof het dikwels spot en ekonomiese uitsluiting meegebring.
Dis binne hierdie realiteit dat Paulus skryf: “Dra mekaar se laste.” Hy skryf nie aan mense wat net sukkel met algemene lewensdruk nie, maar aan mense wat letterlik mekaar moes help oorleef. Daar was werklike gevalle waar ’n vrou byvoorbeeld haar werk sou verloor het omdat sy haar afgodsbeeld uit haar huis verwyder het, of ’n man wat nie meer aan die plaaslike vakbond-maaltye kon deelneem nie omdat hy nie aan die keiser se goddelikheid wou hulde bring nie. Of ’n Weduwee wat haar kinders grootmaak te midde van sosiale uitsluiting.
In Tessalonika was dit nie veel anders nie. Daardie gemeente het onder druk ontstaan, en Paulus se brief aan hulle is deurdrenk met erkenning van hulle lyding én aanmoediging om aan te hou. In so ’n konteks was bemoediging nie ’n opsionele vriendelikheid nie, dit was ’n noodsaaklike deel van volharding. Hulle moes mekaar optel, keer op keer.
Hierdie wêreld van die eerste gelowiges herinner ons dat geloof het gemeenskap nodig. Sonder mekaar sou hulle nie kon volhou het nie. En dieselfde geld vir ons vandag.
Kom ons dink bietjie verder saam oor gemeenskap en bemoediging.
“Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” – Galasiërs 6:2 (AFR53)*
In Galasiërs 6:2 staan die woord “dra” sentraal – en in Grieks is dit bastazete, wat “om op te tel, te dra, te dra bo op jouself” beteken. Dis nie net ’n ligte optel van iemand se tas nie; dis ’n woord wat dikwels gebruik is vir swaar laste, vir ’n juk op iemand se skouers. Dis dieselfde woord wat gebruik is toe Jesus Sy kruis moes dra (Johannes 19:17). Die prentjie is dus nie van ’n vriendelike klop op die skouer nie, maar van iemand wat letterlik onder die las inbeweeg en help dra, selfs as dit ongemaklik, uitputtend of emosioneel moeilik is.
Wat mens hier opval, is dat Paulus nie sê ons moet mekaar se laste "verduidelik" of "oplos" nie – maar dra. Soms beteken dit om stil te wees langs iemand se pyn. Soms is dit prakties, soos kos saambring, kinders oppas, iemand se hand vashou tydens ’n siekbed. En soms is dit geestelik, soos om iemand se twyfel, skaamte of worsteling voor die Here te dra in gebed. Bastazete herinner ons dat ware gemeenskap nie net ons tyd vra nie, maar dikwels ons skouers.
“Daarom, bemoedig mekaar, en laat die een die ander in die geloof opbou, soos julle inderdaad doen.” – 1 Thessalonisense 5:11 (AFR20)*
In tye van worsteling kan ’n eenvoudige woord van hoop ’n anker wees. Bemoediging is nie net ’n trooswoord nie, dit is ’n daad van geloof wat iemand herinner aan God se teenwoordigheid, Sy beloftes en Sy krag. Wanneer ons kies om ander op te bou, werk ons saam met die Gees om hoop en standvastigheid te herstel. Dit is 'n bediening wat elke gelowige kan verrig.
“Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.” – Hebreërs 10:24 (AFR83)*
Dissipelskap vra volharding – en volharding gebeur nie maklik alleen nie. Wanneer ons mekaar aanspoor, aanmoedig en saam dien, help ons mekaar om die pad voluit te loop. Gemeenskap is nie net ’n ondersteuningstelsel nie – dit is ’n geestelike liggaam wat saam beweeg, saam val, en saam opstaan. Ons het mekaar nodig, elkeen met sy eie gawe, sy eie teenwoordigheid en sy eie getrouheid.
Hemelse Vader,
Dankie dat U my roep na ’n familie van geloof.
Ek vra dat U my hart sal oopmaak vir ander.
Laat ek nie leef asof ek alleen is nie.
Wys my wie se las ek vandag kan help dra.
Gee my die moed om naby te wees,
nie net wanneer dit maklik is nie, maar wanneer dit nodig is.
Ek vra dat U my woorde sal vul met waarheid en sagtheid.
Laat ek ’n bemoediger wees,
iemand wat hoop bring en nie oordeel nie.
In Jesus se Naam bid ek dit.
Amen.
Vra vandag doelbewus vir iemand: “Hoe gaan dit regtig met jou?”, en luister aandagtig.
Skryf ’n kort bemoedigende boodskap of nota vir iemand wat stil geword het of dalk bietjie eenkant is.
Dink aan jou rol in ’n geloofsgemeenskap – hoe en waar jy dalk meer aktief tot ander se bemoediging of ondersteuning kan bydra.
“Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” – Galasiërs 6:2 (AFR53)*
Dra ek ander se laste met ’n bereidwillige en vrymoedige hart, of hou ek eerder my afstand?
Watter rol speel ek tans in die opbou van ander se geloof, en op watter praktiese maniere kan ek meer betrokke wees?