Lyding is nie ’n uitsondering op die dissipelskapspad nie, maar eerder deel daarvan. Jesus roep ons nie net om Hom te volg wanneer dit maklik is nie, maar juis wanneer dit ons iets sal kos. Om jou kruis op te neem beteken nie om lyding te vermy nie, maar om dit saam met Christus met hoop en vertroue te dra.
“Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly. As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy ’n moordenaar is of ’n dief of ’n misdadiger of ’n kwaadstoker nie. Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.”
“Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.” - 1 Petrus 4:12-16; 19 (AFR83)*
Toe Petrus hierdie brief aan gelowiges geskryf het, het hulle te make gehad met werklike vervolging en lyding. Dit was nie bloot persoonlike swaarkry nie, maar lyding juis omdat hulle Jesus gevolg het. In daardie tyd was dit gevaarlik om as Christen bekend te staan. Gelowiges is geïsoleer, belaster, en vervolg.
In hierdie konteks moedig Petrus hulle aan: moenie verbaas wees as julle ly nie. Lyding is nie ’n vreemde afwyking vir dissipels nie, dit is deel van die pad wat Christus self geloop het. Hy het nie gemak en erkenning gekies nie, maar wel die kruis, en as ons Hom volg, sal daar tye wees wat ons dieselfde pad moet stap.
Petrus se oproep is nie om lyding te verheerlik nie, maar om dit binne die regte raamwerk te verstaan. Dit is deelname aan Christus, en as iets waarin God teenwoordig is. Hy herinner gelowiges daaraan dat hulle hul lewens in vertroue aan God kan oorgee, selfs wanneer dinge moeilik is.
Hierdie oorgawe is nie passief nie. Dit vra ’n aktiewe volharding in wat reg is. Dissipelskap beteken nie om lyding te soek nie, maar om nie daarvan weg te skram wanneer dit kom nie. Dit is om vas te hou aan Christus, wetende dat Hy ons nie net roep tot lyding nie, maar ook tot heerlikheid.
Kom ons dink saam bietjie verder oor wat dit beteken om lyding te aanvaar.
“En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.” – Lukas 14:27 (AFR53)*
Jesus nooi ons nie na ’n gemaklike pad nie, maar na ’n pad van waarheid, selfs waar dit deur lyding loop. Die kruis is nie iets wat ons kies nie; dit is iets wat ons dra. Wanneer lyding oor ons pad kom, beteken dit nie dat God afwesig is nie. Inteendeel, dit is dikwels juis dáár waar Hy die naaste is.
“Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” – Matteus 5:10 (AFR20)*
Ons hou van nature nie van pyn nie. Maar geestelik gesproke is lyding ’n plek van vorming. Dit is waar ons leer om vas te hou, om te vertrou, om te groei. Wanneer ons ons kruis dra, dra ons dit nie alleen nie, maar Christus dra dit saam met ons. En Hy gebruik selfs pyn om ons nader aan Homself te bring.
“Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie.” – Romeine 8:18 (AFR20)*
Paulus, wat self deur vervolging, gevangenisstraf en swaarkry is, het steeds vasgehou aan hoop. Christus het die laaste woord, en nie lyding nie. Elke traan, elke beproewing, elke donker nag word belig deur die wete dat ons op pad is na ’n heerlikheid wat nie vergaan nie. Dít is die hoop wat dissipels dra.
Here Jesus,
U het self die pad van lyding geloop,
en U roep my om U te volg,
nie net in vreugde nie,
maar ook in swaarkry.
Ek bely dat ek soms terugdeins vir pyn.
Maar U is getrou,
selfs wanneer dit om my donker word.
Leer my om my kruis te dra,
met geloof en volharding.
Help my om U nabyheid raak te sien
wanneer die lewe swaar is.
Laat my lyding nie verniet wees nie.
Vorm daardeur U beeld in my.
Amen.
Dink terug aan ’n tyd van lyding in jou lewe: Hoe het jy God daar beleef? Hoe het Hy jou gevorm?
Bid spesifiek vir iemand wat tans deur swaarkry gaan, en vra die Here hoe jy daardie persoon prakties kan bemoedig.
Skryf ’n kort nota aan God waarin jy jou kruis vir vandag bewustelik aan Christus oorgee.
“En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.” – Lukas 14:27 (AFR53)*
Hoe sien ek vandag my eie lyding in die lig van Christus se kruis?
Is daar ’n kruis wat ek probeer vermy, maar wat ek in gehoorsaamheid moet dra?