Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. Galasiërs 2:19–20 (AFR83)*
Kan jy glo? Vandag is die 40e dag van hierdie dissipelskapsreis!
Ons het hierdie reis van dissipelskap saam begin met die soeke na wat dit regtig beteken om 'n dissipel van Jesus te wees. Vandag, op die 40ste dag, bring ons dit alles bymekaar. Wat is dissipelskap nou eintlik?
In een woord:
“Navolging”.
In twee woorde:
“Getroue navolging”.
In drie woorde:
“Lewe in Christus”.
Hierdie eenvoudige woorde dra ’n lewensveranderende uitnodiging: Volg Hom na, nie net met jou gedagtes of emosies nie, maar met jou hele wese – jou tyd, jou keuses, jou hart, jou drome. Dissipelskap is nie 'n projek of 'n seisoen nie; dit is 'n manier van leef. Dit vra nie perfeksie nie, maar oorgawe. Nie prestasie nie, maar verhouding.
Ons het in hierdie 40 dae gestap deur woorde van Jesus, voorbeelde van geloof, uitdagings tot groei, en uitnodigings tot diepere oorgawe. Party dae was makliker as ander. Maar elke dag het ons verder gevorm as volgeling van Christus – een tree, een keuse, een gebed op 'n slag.
En nou, hier aan die einde van hierdie pad, staan ons eintlik aan die begin. Hierdie 40 Dae van Dissipelskap was nooit die bestemming nie – dit was die voorbereiding. Nou begin die ware reis: die lewe ná die 40 Dae. ’n Lewe van volgehoue navolging, van geloof in aksie, van hoop en lig in ’n donker wêreld.
Kyk vandag terug en vier wat God vir ons elkeen gedoen het. Dink aan die oomblikke van insig, die stil gebede, die pynlike eerlikheid, die verrassende genade. Maar moenie daar bly nie. Kyk vorentoe – na 'n lewe waarin jy elke dag weer sê: “Here, ek volg U. Voluit.”
Moenie probeer om dit alleen te doen nie. Dissipelskap is ’n gemeenskapsreis. Soek ander wat saam met jou wil groei, wat saam wil struikel en opstaan, wat saam Jesus wil volg met alles in hulle. Bou ’n lewe waarin Christus die middelpunt is – nie net Sondag nie, maar Maandag tot Saterdag ook.
Ons Vader,
Dankie vir hierdie 40 Dae van Dissipelskap,
40 Dae van groei, stilte, ontdekking en transformasie.
Here Jesus, dankie dat U my elke tree begelei het,
en dat ek in U stofspore kon loop.
Ek gee myself vandag weer opnuut aan U,
nie net vir ’n seisoen nie, maar vir my hele lewe.
Heilige Gees, leer my om U elke dag met alles in my te volg.
Mag my lewe 'n dagstukkie wees wat ander na U wys.
Amen.
Skryf vir jouself ’n kort slagspreuk of gebed wat jou daagliks sal herinner aan hierdie reis. Iets soos: “Ek volg Jesus, elke dag.” of “My lewe is in Christus.” Sit dit op jou muur, op jou foon, of in jou hart.
Onthou dat die pad van dissipelskap nie vandag eindig nie. Dit is maar net die begin. Gaan voluit saam met Jesus. Gaan leef as Sy dissipel – in een woord: navolging.
Druk die "Play"-knoppie hieronder, maak jou oë toe, en fokus vir die tydsduur van die musiek op God en wat Hy vir jou in jou lewe gedoen het, en hoe jy ook waarlik 'n geseënde van die Here is. Leef in hierdie werklikheid:
Ek is 'n geseënde kind van God.
Is jy gereed hiervoor? Dan sê ons saam: