Die Woord van God speel ’n sleutelrol in dissipelskap. Ons het gesien dat God se Woord nie bloot inligting is nie, maar ’n roepstem wat transformasie bring. Dit voed, anker, vorm en stuur ons. Ons is nie geroep om passiewe hoorders te wees nie, maar aktiewe doeners. Hierdie week het ons ontdek dat ware dissipels lewe volgens die Woord, dat ons die Evangelie moet deel, ander leer en onderrig, geestelik moet groei, en die waarheid met onderskeiding en liefde moet bewaar. Die Woord is nie net die beginpunt nie, maar eerder die hartklop van volgehoue dissipelskap.
"Daarom sal elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, soos 'n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het." – Matteus 7:24 (AFR20)*
Hallo, dit is weer ek. Onthou jy, daardie gewone dissipel wat al vir twee Saterdae met jou praat. Hierdie week het ons bietjie stil gestaan by God se Woord. Sjoe, ek moet nogal sê dat ek julle klomp daar in die toekoms beny omdat julle God se Woord in ’n netjiese boekvorm het, en sommer in jou eie taal ook.
Ek het nie al die antwoorde nie. Maar ek het ’n honger vir Sy Woord – en dit groei by die dag. Hierdie week het ek weer besef hoe afhanklik ek is van God se stem, en hoe Hy deur Sy Woord my lei, troos, en vorm.
Ek onthou daardie oomblik toe ons geleer het dat Jesus vir die versoeker in die woestyn gesê het: “Die mens leef nie van brood alleen nie.” Dit het my getref – want ek weet hoe maklik ek probeer leef op die dinge wat verby gaan. Maar Sy Woord bly. Dit voed my diepste wese. Hierdie laaste Sondag het ek weer besef: ek het nie net 'n Bybel op my rak nodig nie – ek het 'n lewende Woord in my hart nodig.
Maandag het ek gestop by die feit dat kennis nie genoeg is nie. Ek kan alles weet, en tog Christus mis. Maar wanneer ek luister, toepas, en gehoorsaam, leef ek in Sy liefde. Ek het begin vra: Hoeveel weet ek... en hoeveel leef ek?
Daardie woorde het weer in my gedagtes kom speel: "Julle sal my getuies wees." Dis nie net vir sendelinge nie. Dis vir my. In my dorp, my familie, my werk. Jesus het gesê ek sal krag ontvang – nie my eie nie, maar Syne – om my lewe 'n getuienis van Sy genade te maak. Dinsdag het ek gebid vir moed... en vir geleenthede om nie stil te bly nie.
Ek het stil geword voor die Groot Opdrag. "Maak dissipels... leer hulle..." Dis nie net die predikant se taak nie. Dis myne ook. Ek het begin dink aan mense om my – vriende, jonges, nuwelinge in die geloof. Wie kan ek nader trek, saam met my pad stap, en help groei? Ek het nie alles nie, maar ek het Hom.
Ek het teruggedink aan die storm in my lewe wat my amper laat val het. Maar wat my staande gehou het, was nie my eie krag nie – dit was die Rots. Die daaglikse keuses, die eenvoudige gehoorsaamheid, het my wortels laat groei. Hierdie Donderdag het ek God gedank vir die werk wat Hy stil-stil in my doen. Ek wil aanhou groei.
En toe kom gister – Vrydag. Die Here het my herinner dat nie alles wat geestelik lyk, eg is nie. Jesus het gesê: "Pas op..." en ek het geweet – ek moet waak. Oor wat ek hoor, oor wat ek glo, en oor wat ek self sê. Ek wil die Evangelie suiwer bewaar. Nie uit vrees nie, maar uit liefde. Want die waarheid maak vry. En Christus is daardie waarheid.
Wil jy saam met my bid?
Here Jesus,
U Woord is lewe, waarheid en lig.
Dankie dat U my elke dag voed en vorm.
Help my om te luister, en om te leef wat U my leer.
Laat my lewe ’n getuienis wees van U genade.
Wys my vir wie ek ’n voorbeeld kan wees,
waar ek kan groei,
en hoe ek U waarheid kan bewaar.
Ek wil op rots bou, nie op sand nie.
Wees U Woord my fondament.
Amen.
Neem daardie papier wat jy verlede week agter jou deur of in jou kas geplak het, en voeg daarby watter boodskap hierdie week jou die meeste aangespreek het en hoekom. Plak die papier weer op sy plek – agter die deur of in die kas.
Deel een vers of waarheid met iemand – per boodskap, oproep of in persoon.
"Daarom sal elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, soos 'n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het." – Matteus 7:24 (AFR20)*
Watter aspek van hierdie week het my geloof die meeste verdiep?
Waarin het ek toegeneem – en waar is God nog besig om my te vorm?
Hoe kan ek ander, veral my huismense en kinders, help om God se Woord te verstaan, geniet en te leef?
Dink bietjie na oor die rol wat die Heilige Gees in jou geestelike groei speel. Laat jy toe dat Hy jou vorm?