Vergifnis is een van die moeilikste opdragte wat 'n dissipel moet uitvoer. Dit kan ook een van die vrugbaarste opdragte wees. Jesus leer ons dat om ander te vergewe nie opsioneel is nie. Dit is 'n bevrydende daad wat ons eie verhouding met God weerspieël. Vergifnis is nie om pyn te ontken nie, maar om dit in God se hande te plaas. Ware vryheid kom wanneer ons laat gaan en in die genade leef wat ons self ontvang het.
“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” – Matteus 6:14–15 (AFR83)*
Hierdie vers kom uit Jesus se Bergpredikasie en spesifiek net ná Hy die “Onse Vader” gebid het. In hierdie gebed het Hy geleer: “Vergeef ons ons skulde, soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.” Dan, sonder oorgang, beklemtoon Hy hierdie een saak weer: Vergifnis is so sentraal in die geestelike lewe dat ons eie verhouding met God daardeur geraak word.
Vir Sy luisteraars, mense wat bekend was met die wet en geregtigheid, moes hierdie woorde 'n worsteling gewees het. God verwag nie net vergifnis van Hom af nie; Hy verwag dit ook van ons. En meer nog: Hy verbind Sy eie vergifnis aan ons bereidheid om ander te vergewe.
Jesus het vergifnis nie net gepreek nie, Hy het dit geleef. Op die kruis het Hy gebid vir dié wat Hom vermoor het: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hierdie gebed word die meetstok vir dissipelskap, naamlik om lief te hê soos Hy liefhet en te vergewe soos Hy vergewe.
Om te vergewe is nie om pyn te minimaliseer nie, maar dit is om dit oor te gee. Dit is om die ketting van bitterheid te breek en vry te stap in die lig van genade. Want om vas te hou aan ’n onvergewensgesindheid, hou nie ander gevange nie, maar eerder ónsself.
Vergifnis is dus nie net ’n opdrag nie. Dit is ’n gawe. Dit bevry ons hart, genees wonde en bring lig waar donkerte vasgesteek het. Wanneer ons vergewe, weerspieël ons die karakter van ons Vader en leef ons die lewe waarvoor ons gemaak is.
Kom ons dink bietjie verder saam oor vryheid deur vergifnis.
“Want as julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.” – Matteus 6:14 (AFR83)*
Jesus plaas vergifnis op die voorgrond van die geestelike lewe. Die seën van vryspraak wat ons ontvang het, moet vloei na ander. As God ons vergewe, kan ons nie regtig regverdig weier om ander te vergewe nie. Ware vryheid kom wanneer ons vergewe soos Hy vergewe het.
Die Griekse woord vir "vergewe" in hierdie vers, "aphēte," beteken letterlik "om weg te stuur" of "om los te laat." Dit impliseer 'n definitiewe aksie, 'n besluit om nie langer aan iets vas te hou nie. Hierdie daad van loslating is fundamenteel tot Christelike vryheid. Dit is nie bloot 'n kwessie van verstandelike instemming nie, maar 'n aktiewe oorgawe wat die potensiaal het om ons te bevry van die bitterheid en wrok wat ons andersins kan bind.
Vergifnis word hier nie beskryf as iets wat wag op gevoel nie, maar as iets wat jy aktief kies om te doen. In Jesus se kultuur was daar ’n sterk verwagting van vergelding, om terug te gee wat aan jou gedoen is. Maar Hy bring ’n radikale draai: ware geestelike lewe is nie om regverdig terug te gee nie, maar om genadig los te laat. Vergifnis is nie om te vergeet nie, want dit is nie wat God van ons vra nie. Vergifnis is om die "angel met gif" uit ons eie wese te trek, sodat ons genesing kan ontvang. Ons sal altyd die optrede onthou, maar dit is nie meer die sielewroeging wat dit voorheen was nie. Vergifnis is daarom nie ’n opsionele aspek van dissipelskap nie; dit is ’n geïntegreerde deel van dissipelskap. Om te vergewe is om soos die Vader te wees.
“Moenie self wraak neem nie... Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.” – Romeine 12:19 (AFR83)*
Vergifnis vra nie dat ons die pyn vergeet of goedpraat nie. Dit vra dat ons dit aan God oorlaat. Om te vergewe is om nie die pyn te ignoreer nie, maar om dit nie langer die mag te gee om ons te beheer nie.
“Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” – Efesiërs 4:32 (AFR53)*
Wanneer ons vergewe, verander iets in ons. Dit herstel nie net verhoudings nie; dit genees ook ons eie wese. Vergifnis is ’n geestelike geneesmiddel. Dit bring sagtheid waar daar eers verharding was, hoop waar daar seer was. En dit herinner ons: ons leef uit genade en daarom moet ons ook genade leef.
Hemelse Vader,
U het my vergewe, vry en volkome.
Ek aanbid U vir U genade.
Ek bely dat ek soms sukkel om ander te vergewe.
U weet waar die wonde diep is.
Ek vra dat U my leer om los te laat.
Om nie wraak te soek nie,
maar vrede, soos net U kan gee.
Gee my die moed om ander vry te spreek.
Help my om nie meer 'n gevangene
van bitterheid te wees nie.
Maak my oë oop vir U vergifnis,
en laat my hart sag wees vir ander.
Amen.
Dink aan iemand teenoor wie jy dalk ’n wrok dra, en bid vir die genade om daardie persoon te vergewe.
Skryf ’n brief waarin jy die seer en die vergifnis aan God toevertrou.
Lees Matteus 18:21–35, Jesus se gelykenis van die onvergewensgesinde dienskneg, en dink na daaroor.
“Want as julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.” – Matteus 6:14 (AFR83)*
Wat hou my terug om werklik ander te vergewe?
Wat sou vryheid deur vergifnis prakties in my lewe beteken?
Vandag se video is 'n baie kragtige getuienis. God het ons in Jesus Christus vergewe. Wat beteken dit vir ons?