Dissipelskap is nie ’n losstaande keuse of ’n opsionele aspek van geloof nie. Dit is die kern van ons verhouding met Christus. Hierdie week het ons die fondament van dissipelskap ondersoek. Hoe dit begin met ’n oproep, gevestig word in liefde, sigbaar word in gehoorsaamheid en gevul is met die hoop op ’n Ewige Lewe. Elke aspek bou op die ander en herinner ons daaraan dat dissipelskap ’n allesomvattende lewenspad is.
"Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak." – Matteus 4:19 (AFR83)*
Voordat jy verder lees, laat ek jou vertel wie ek is. Ek is nie een van die twaalf wie se name jy ken nie. Ek het nie bo-aan ’n lys verskyn of boeke geskryf nie. Ek was net ’n gewone man, een van dié wat Hom gevolg het. Ek het Hom sien preek, sien genees, sien huil… en toe die kruis sien dra. Ek was daar toe hy aan die 500 mense tegelykertyd verskyn het, en ek weet Hy het uit die dood opgestaan.
Ek het nie altyd verstaan nie, maar ek het gebly. En nou, jare later, dra ek steeds die stories in my hart, nie as leerstellings nie maar as deel van my lewe. Kom sit saam met my en luister na hoe ek hierdie week se pad van dissipelskap weer beleef het.
Ek was net ’n gewone man. Ek het vis gevang, met eelte op my hande en die reuk van vis op my klere. Maar toe roep Hy my, nie met dwingende krag nie maar met oë wat deur my gekyk het. "Volg My," het Hy gesê. En ek het. Daardie dag sal ek nooit vergeet nie. Dissipelskap begin met ’n stem, met ’n roep. Nie om net iets te doen nie maar om saam met Iemand te wees. Dis nie net ’n verandering van beroep nie maar ’n verandering van lewe.
Toe het ek besef hierdie pad is gegrond in liefde en nie in plig nie. Hy het nie net gesê ons moet Hom volg nie. Hy het gesê ons moet God liefhê met alles wat ons het. Ons harte, ons siele, ons verstand. En uit daardie liefde groei liefde vir ander. Dis nie ’n ekstra opdrag nie maar deel van dieselfde hartklop. Hoe kan jy God liefhê en nie ook Sy mense nie?
Dinsdag het ek weer onthou dat hierdie liefde nie net woorde is nie. Dit vra dade. Ek moes leer om nie net vir my naaste te bid nie maar om hulle op te soek, hulle laste te dra en hulle hande vas te hou. Dis makliker om lief te hê op papier. Maar Jesus het ons gewys wat dit regtig beteken, om voete te was, selfs dié van verraaier vriende.
Soos wat ek Hom gevolg het, het Hy my geleer dat ek nie meer uit vrees hoef te leef nie. Ek het jare lank gedink ek moet God se goedkeuring verdien. Maar Hy het my eerste liefgehad. Dis daardie liefde wat my vrymaak van my skuld en my twyfel. Ek leef nou as kind, nie meer as slaaf nie.
Ek het gou geleer dat om Hom te volg beteken dat ek elke dag moet kies om Sy woorde ernstig op te neem, nie net in my kop nie maar in my lewe. Dis maklik om te knik wanneer Hy praat, maar moeiliker om stil te wees en te doen wat Hy vra, veral as dit my gemak uitdaag. Tog het ek gevind dat elke keer wat ek Hom gehoorsaam het, al was dit met bewerige geloof, iets in my begin vasraak het. ’n Anker, ’n rustigheid, ’n sekerheid dat Sy Woord nie net waar is nie maar lewend ook. En dis juis in daardie gehoorsaamheid, daardie blywende vasstaan, dat ek Hom regtig leer ken het as Here.
Ek het op die harde manier geleer dat hierdie pad nie altyd maklik is nie. Dissipelskap kos jou iets. Daar is offers. Daar is kruis dae. Maar selfs dan het Hy beloof dat die heerlikheid wat wag veel groter is as wat ek nou moet verduur. Ek is nie net ’n volgeling nie. Ek is ’n erfgenaam. Ek is deel van Sy storie, deel van Sy toekoms.
Ek nooi jou nou om saam met my hierdie gebed te bid, ons twee dissipels saam...
Here Jesus,
U het my geroep om U te volg,
nie net met my voete nie,
maar met my hele hart.
Dankie vir U liefde
wat eerste na my uitgereik het.
Laat my leef vanuit daardie liefde,
nie uit vrees nie,
maar uit vreugde.
Leer my om ander lief te hê
soos U my liefhet.
Gee my ’n hart wat gehoorsaam is,
en ’n gees wat volhard.
Ek gee my lewe weer oor aan U,
want U alleen is waardig.
Vorm my, gebruik my,
en laat my altyd onthou:
dissipelskap is ’n voorreg, nie net ’n plig nie.
Amen.
Dink terug aan elke dag van hierdie week en skryf die één ding neer wat jou die meeste getref het. Plak dit agter jou deur, of jou kas. Iewers waar jy dit maklik kan sien.
Deel een waarheid of teks met iemand wat dit nodig het.
Bid vir iemand wat jy ken wat nog nie tot volle oorgawe in Christus gekom het nie.
“Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” – Matteus 4:19 (AFR83)*
Wat het die Heilige Gees hierdie week vir my kom wys oor ware dissipelskap?
In watter deel van my lewe sukkel ek nog om Christus te volg?
Waarheen roep Jesus jou volgende?