Ware dissipelskap word nie net bewys in die groot oomblikke van geloof nie, maar in die stil, eenvoudige getrouheid van elke dag. Dit is in die gewone dinge, soos werk, geselskap en diens waar ons wys wie ons werklik volg. God sien die klein dinge, en Hy eer die wat getrou bly daarin.
“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik. As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou? As julle met ’n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?
“Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie.” – Lukas 16:10–13 (AFR83)*
Jesus het hierdie woorde gepraat kort nadat Hy die gelykenis van die onregverdige bestuurder vertel het. Dit is ’n storie wat aanvanklik soos ’n vreemde keuse klink vir ’n les oor dissipelskap. Die bestuurder in die verhaal was nie eerlik nie, maar slim. Hy het voorsiening gemaak vir sy toekoms op ’n manier wat Jesus se toehoorders laat regop sit het. En toe verras Jesus hulle met ’n kernwaarheid: “Wie in die geringste getrou is, is ook in die groot dinge getrou.”
Sy woorde het direk ingeslaan op die kultuur van die dag, waar mense maklik op uiterlike prestasie en status gefokus het. Groot dade het bewondering ontlok, maar klein take is maklik misgekyk. Jesus herinner hulle, en ons, dat God anders kyk. Hy meet nie net die volume van ons werk nie, maar die getrouheid van ons hart.
Die Here het altyd belang geheg aan die gewone. Dawid was ’n skaapwagter voordat hy ’n koning was. Maria was ’n jong meisie in ’n dorpie toe sy gekies is om die moeder van Christus te wees. En Jesus self het ’n alledaagse lewe op ’n plattelandse dorpie gehad lank voordat Hy die skares onderrig het.
Wanneer Jesus dus sê dat getrouheid in die geringste dinge saak maak, is dit nie bloot ’n mooi beginsel nie, maar ’n geestelike werklikheid. In die klein, alledaagse keuses vorm God ons karakter. In die roetine, die verborge opofferinge, en die stille gehoorsaamheid leer ons om Hom lief te hê en Hom te vertrou.
Dissipelskap is nie net ’n reeks dramatiese keuses nie. Dis ’n lewenswyse. En die Here kyk nie net na ons hoë oomblikke nie, maar ook na die oggende wanneer ons opstaan om weer te probeer, die besluite neem wat niemand sien nie, en die geloof wat aanhou hou in die gewone dinge.
Kom ons dink saam bietjie verder oor getrouheid in die alledaagse.
“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar...” – Lukas 16:10 (AFR83)*
Jesus koppel getrouheid nie aan belangrikheid nie, maar aan houding. As ons in die “gewone” dinge, soos integriteit en eerlikheid getrou is, wys dit dat ons harte deur die Gees gevorm word. Hierdie klein dade word in die hemel gesien, selfs al word dit op aarde misgekyk.
“Tree so op dat dit die evangelie van Christus waardig is...” – Filippense 1:27 (AFR20)*
’n Betekenisvolle insig uit Filippense 1:27 lê in die oorspronklike Griekse woord wat met “lewenswandel” vertaal word (politeuesthe). Hierdie woord is nie die gewone term wat Paulus elders gebruik vir "wandel" (soos peripateō) nie. Politeuesthe is van die wortelwoord polis (polités) afgelei, en polis beteken “stad” of “gemeenskap”, terwyl polités na 'n burger van 'n stad verwys. Politeuesthe, beteken dan letterlik: “om jouself te gedra soos ’n burger behoort”. Dit dra die gevoel van openbare en sigbare optrede wat pas by iemand se burgerskap. Wat Paulus dus hier impliseer, is dat gelowiges in Filippi hul lewens moet leef op ’n wyse wat getuig van hul hemelse burgerskap en van wie hulle in Christus is, selfs al woon hulle in ’n aardse stad.
Hierdie gebruik is des te treffender as ’n mens onthou dat Filippi ’n Romeinse kolonie was waar burgerskap ’n groot voorreg en identiteit was. Paulus speel doelbewus daarop in: "As julle só trots is om Romeine te wees, wees des te meer bewus daarvan dat julle nou burgers is van die koninkryk van Christus." Dus: dissipelskap is nie iets wat in afsondering gebeur nie. Dit is sigbaar, gemeenskapsgebonde en prakties. Dit gaan nie net oor reg glo nie, maar oor reg leef. In ons werk, besluite, gesindhede en selfs gesprekke, wys ons dat ons aan ’n ander Koning behoort. En wanneer ons in die alledaagse getrou is aan daardie roeping, word ons lewens self ’n evangelieverklaring.
“Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.” – Galasiërs 6:9 (AFR83)*
Wanneer ons aanhou om selfs in die alledaagse dinge goed te doen, bring dit geestelike vrug voort. Die Here gebruik herhaling, volharding en klein besluite om ons karakter te vorm. Selfs wanneer dit voel of niks verander nie, is Hy besig om iets in ons te bou wat ewig hou. Dit is in hierdie proses van volharding dat ons die diepte van ons geloof ontdek en ons afhanklikheid van God ontwikkel. Dink byvoorbeeld aan ouerskap: die konstante versorging, die nagtelike wakkerbly en die eindelose geduld. Dit lyk dalk onbeduidend, maar dit ontwikkel nie net die kind nie, maar ook die ouer se karakter. Die Here sien elke poging en elke klein oorwinning, en Hy gebruik dit om ons te vorm na die beeld van Christus.
Here Jesus,
U sien dit wat ander miskyk,
die klein dade, die sagte woorde,
die stil gehoorsaamheid.
Ek wil getrou wees in die gewone.
Leer my om U te dien in my daaglikse roetine.
Vul my werk met betekenis,
en my woorde met lig.
Help my om nie moeg te word
om goed te doen nie.
Mag ek U weerspieël in alles,
ook in die geringste dinge.
Heilige Gees, Werk in my
om meer getrou aan U te wees.
Amen.
Kies een gewone taak wat jy gewoonlik as onbeduidend beskou, en doen dit doelbewus as ’n daad van liefde vir God.
Herinner jouself vandag daaraan: “God is teenwoordig in hierdie oomblik.”
Skryf aan die einde van die dag neer: Waar het ek vandag ’n geleentheid gehad om getrou te wees?
“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar...” – Lukas 16:10 (AFR83)*
In watter area van my lewe roep die Here my tot groter getrouheid, selfs al lyk dit onbenullig?
Hoe kan ek Christus meer aktief volg in die sogenaamde “gewone” dele van my lewe?